Ramaphosa versuim om sy grondwetlike plig van nasiebou na te kom

2020-09-25
Die Redaksie

"President Cyril Ramaphosa se uitsprake dat simbole en monumente wat dateer uit die koloniale- en apartheidstyd verwyder moet word en elders hervestig moet word aangesien dit nie deel kan wees van die nuwe demokrasie nie, skep nie nasiebou nie," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Dit veroorsaak eerder polarisasie en vervreemding tussen die mense en volke van Suid-Afrika.

"Suid-Afrika se Grondwet bepaal in Artikel 83(c) dat die president van die land ‘n plig het om die nasie te verenig. Hierdie optrede verenig nie, maar bring eerder verwydering.

"Die werklikheid is dat die president verwronge idees het oor die land se geskiedenis. Verlede jaar op Erfenisdag het hy verwys na die Zoeloes by Die Slag van Bloedrivier as “vryheidsvegters”. Die VF Plus het hom hieroor tereggewys met die Staatsrede vroeër vanjaar.

 

"Dit maak dit duidelik hy ken nie die korrekte feite oor die geskiedenis van die Afrikaner nie en dit is duidelik dat sy jongste uitsprake oor simbole, gemik is op Afrikaner-simbole."

 

"As leier van die VF Plus, daag ek die president uit om te sê watter standbeelde en monumente hy wil laat verwyder en waar hy dit wil laat plaas. Hy moet nie net breë uitsprake maak sonder besonderhede nie aangesien dit ‘n emosioneel gelaaide aangeleentheid is en mense sekerheid daaroor wil hê.

"Die minste wat hy kan doen, is om met Afrikaner-kultuurorganisasies gesprek te voer oor wat hy beplan.

"President Ramaphosa is op rekord oor ‘n uitlating dat hy alles in sy vermoë sal doen om eenheid in die ANC te verseker, al beteken dit dat hy gesien kan word as ‘n swak president vir die land.

 

"Die monumente-aangeleentheid is ‘n duidelike voorbeeld van ‘n swak president wat buig voor sy party ten koste van nasiebou en om die aandag af te lei van die korrupsie in die ANC nadat hy onlangs self gesê het die ANC is beskuldigde nommer een wat korrupsie in die land aanbetref."

 

"Pres. Ramaphosa is vanuit die ANC daaroor gekritiseer en hy wil nou die fokus verskuif na die Afrikaner en die land se erfenis uit die koloniale- en apartheidstyd.

"In stede daarvan om standbeelde en simbole te verwyder, moet hy eerder daarop fokus om die korruptes in die ANC en in sy kabinet te verwyder. Dan tree hy in belang van Suid-Afrika op soos dit van hom verwag word," sê Groenewald.

PieterGroenewaldANC#CyrilRamaphosaErfenisdag

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!