"President Cyril Ramaphosa se idees om die ekonomie weer op die been te kry, sal bloot net planne bly indien daar nie praktiese, werkbare voorstelle is nie. Hy het die afgelope naweek aanlyn met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum oor sy ekonomiese heropbou-planne gepraat," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Om as vertrekpunt vir die herstelplan te sê die huidige ekonomiese bestel is gebou op rassisme en kolonialisme, wys reeds dat enige plan wat hieruit voortspruit, gedoem is tot mislukking.
"Die vraag kan daarom na die president se uitlating gevra word of swart bemagtiging ʼn groter rol gaan speel in die toekomstige ekonomie. Hy sê ook die ekonomie moet plaaslik gerig word en die land moet sy eie kos produseer. Dit dui daarop dat pres. Ramaphosa uit voeling is met die werklikheid aangesien die land wel sy eie kos produseer.
"Hy sê die ekonomie moet oopgestel word en moet reageer op die armoede in die land met die fokus op werkskepping. Hy sê dit vandat hy in 2018 president geword het. Selfs voor die huidige inperking is dit algemeen bekend dat die land se ekonomie ernstige probleme ondervind het. Ekonomiese groei was verlede jaar slegs 0,2%.
"Daar is nie nou ʼn haas wat hy skielik vanuit nêrens uit die hoed getrek kan word vir ekonomiese groei nie. Pres. Ramaphosa se uitlatings van groot hervormings en dat grondhervorming versnel moet word, skep inteendeel die indruk dat hy vinniger na sosialisme wil beweeg.
"Mense moet toegelaat word om sake te kan bedryf sonder dat ras ʼn rol speel. Die VF Plus daag die president daarom uit om die detail van sy groeiplan daar te stel.
"Hy sê sedert 2018 die land se infrastruktuur skep die geleentheid om werk te skep. Dit is nog altyd daar en niks het verander nie. Al wat hy moet doen, is om vryemark-beginsels in Suid-Afrika van toepasssing te maak.
"Geen ander plan behalwe die vryemark-beginsel, en beslis nie sosialisme nie, sal die ekonomie laat groei of werk skep," sê Groenewald.