Ramaphosa se swye oor rooftog op sy plaas laat meer vrae ontstaan

2022-06-07
Dr Pieter Groenewald

Daar is talle vrae rondom die rooftog op sy plaas in Limpopo in 2020 waaroor president Cyril Ramaphosa duidelikheid moet gee.

Indien die president niks het om weg te steek nie, is daar geen rede om te swyg oor wat gebeur het nie.

Een van die vrae is oor die voorskrifte van die Fica-wet wat ’n beperking plaas op die hoeveelheid kontant wat mense by hul private woning mag hou.

Indien hierdie wet oortree is, is ’n misdryf gepleeg en moet die president ’n verduideliking gee.

Wat valutabeheer aanbetref, kry mense ’n sekere tyd om buitelandse geld te ruil vir die plaaslike Rand. Luidens mediaberigte blyk dit dat pres. Ramaphosa dit nie gedoen het nie.

Hy moet ook sê of die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bewus was van die geld wat glo uit sy huis gesteel is.

Dit help nie die president sê hy het geen belastinggeld gesteel nie. Dit beantwoord nie die vraag nie. Die vraag is of hy die wette van die land gehoorsaam het.

Hy as president moet juis die voorbeeld stel oor die nakoming van landswette. Indien dit nie gedoen is nie, is ’n misdryf gepleeg en moet daar opgetree word.

Die VF Plus stem saam met ander politieke partye dat die SAID sowel as die Reserwebank ook hierdie sake moet ondersoek.

Daar moet vasgestel word of die president binne sy magte en bevoegdhede en binne die wet opgetree het. Indien nie, moet hy soos enige ander landsburger vervolg word.

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosa

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!