Polisiediens wat geen DNS-monsters kan toets nie pleeg verraad teen mense van Suid-Afrika

2021-03-10
Die Redaksie

"Die erkenning van die minister van polisie, Bheki Cele, dat daar tans geen chemikalieë in enige polisie-laboratorium in die land is om DNS-monsters te kan toets nie, kom neer op verraad teen die publiek van Suid-Afrika," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Vir die minister om boonop te sê hy het “toevallig” daarvan bewus geraak tydens ‘n besoek aan ‘n misdaadtoneel, is tekenend van die spanning en konflik tussen die minister en die kommissaris van polisie, genl. Khehla Sitole, tot nadeel van Suid-Afrika.

"Die toetsing van DNS is een van die kernpligte van die polisie in die stryd teen misdaad en is feitlik die enigste metode om ‘n persoon ten volle te verbind aan ‘n toneel of ‘n misdaad om te verseker dat so ‘n persoon skuldig bevind kan word in ‘n hof.

"‘n Verdere krisis is dat daar nou al sedert 2018 verskeie hofsake was tussen die polisie en die maatskappy FDA (Forensic Data Analysts) waarvan die polisie al nege die sake verloor het.

"FDA het ‘n gerekenariseerde stelsel vir die polisie geïmplementeer wat bekend staan as die PCEM (Property Control and Exhibit Management) waar onder meer alle DNS-toetse en die vordering daarvan gerekenariseerd gevolg kan word. Daar kan slegs biometriese toegang tot die stelsel verkry word.

 

"Dit is uiters belangrik vir die versekering van die integriteit van bewysstukke wat noodsaaklik is vir suksesvolle vervolgings in die howe. Weens hierdie hofsake is die stelsel reeds sedert 13 Junie 2020 afgeskakel."

 

"Daar is by twee geleenthede ‘n ooreenkoms bereik tussen FDA en die polisie oor die intellektuele regte van FDA waar die nasionale tesourie selfs bepaal het dat die prys wat FDA vir die diens vra, geregverdig en billik is.

"Om onverklaarbare redes het die polisie elke keer nie die ooreenkoms nagekom nie.

 

"Dit is verdere verraad teenoor veral vroue en kinders wat die slagoffers is van geslagsgeweld. Luidens mediaberigte is daar vroue wat selfs te bang is om op straat te verskyn aangesien hul beweerde verkragters se DNS-toetse die afgelope twee jaar nie gedoen kan word nie."

 

"Die VF Plus het vandag in die polisie se parlementêre portefeuljekomitee voorgestel dat hierdie kontrakte met FDA onmiddellik aanvaar moet word sodat die PCEM-stelsel dadelik weer aangeskakel kan word.

"Die komitee het eenparig saamgestem dat daar teen aanstaande Woensdag verslag gedoen moet word oor die uitvoering van hierdie besluit.

"Hierdie verraad teenoor die slagoffers van misdaad, wat misdadigers beskerm weens onbevoegdheid, kan nie geduld word nie en die VF Plus sal die saak bly aanspreek om seker te maak dat behoorlike oplossings gevind word," sê Groenewald.

PolisieDrPieterGroenewaldBhekiCeleDNS-toetse

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!