Parlementêre ledeverklaring: Suid-Afrika se waterkrisis en die rol van die ANC-regering

2019-10-29
Die Redaksie

"Terwyl ʼn omvangryke waterskaarste die bestaan van alle Suid-Afrikaners bedreig, is dit skokkend dat meer as 40 persent van die land se drinkwater deur lekkasies verlore gaan. In geldwaarde gemeet het sowat R10 miljard se water in die laaste boekjaar verlore gegaaN," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering.

 

"Die lekkasies, ʼn erg verwaarloosde water-infrastruktuur en disfunksionele rioolaanlegte, lei daartoe dat groot hoeveelhede rioolwater die reeds skaars waterbronne soos riviere en damme besoedel. Dit is te wyte aan die totale ineenstorting van plaaslike regering."

 

"Munisipaliteite versuim om noodsaaklike instandhouding te doen om hierdie waterverliese te beperk en besoedeling te voorkom.

"Dit gebeur terwyl ʼn ongekende waterkrisis Suid-Afrika in die gesig staar met damme wat besig is om leeg te loop. Talle stede en dorpe het reeds nie genoeg water om in die aanvraag te voorsien nie en daar is ʼn wesenlike gevaar dat groot waterbronne totaal kan opdroog.

 

"Die ANC-regering se grootste mislukking is plaaslike regering, die ineenstorting van infrastruktuur, uitstaande skuld aan Eskom en waterrade, korrupsie, bedrog en plundering, 'n gebrek aan die nakoming van wette en regulasies, geen gevolgebestuur nie en 'n totale gebrek aan dienslewering."

 

"Die ANC het plaaslike regering vernietig en die landelike ekonomie ly daaronder. Swak plaaslike regering lei tot 'n gebrek aan sake en beleggersvertroue, minder toeriste en verlore werksgeleenthede.

"Die mense van Suid-Afrika ly en die toekoms van die land word bedreig. Pogings om die situasie deur provinsiale administrasie te beredder, is ook ʼn mislukking.  Die ouditeur-generaal (OG) het ‘n gebrek aan politieke wil geïdentifiseer as die rede vir mislukking op plaaslike owerheidsvlak. 

"Die oplossing lê in verantwoordbaarheid en kleiner, gemeenskapsgedrewe munisipaliteite met kundige bestuur. Dit sal plaaslike ekonomieë laat groei en die gevolge van natuurrampe soos droogtes verminder," sê Groenewald.

 

waterMichalGroenewaldsamewerkenderegering

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!