Parlement moet verantwoording laat geskied oor Eskom

2023-03-16
Dr Pieter Groenewald

(Debat in parlement: Stigting van ʼn reël 253-ad hoc-komitee van die parlement om beweerde omvangryke korrupsie en misdadigheid by Eskom te ondersoek)

 

Die parlement van Suid-Afrika het ʼn verantwoordelikheid teenoor die publiek om ondersoek te laat doen na die omvangryke korrupsie en misdadigheid by Eskom.

Artikel 92 van die Grondwet maak dit duidelik dat kabinetslede individueel en kollektief verantwoordbaar is teenoor die parlement.

Alle parlementslede het ʼn belangrike oorsigrol in dié verband.

Die ernstige vergrype wat by Eskom plaasvind, is geen geheim nie. Dit is goed gedokumenteer en die publiek is deeglik bewus daarvan.

As parlementslede vra die publiek ons gereeld wat ons doen aan bewerings soos dié van mnr. André de Ruyter, Eskom se vorige uitvoerende hoof.

Hiervolgens is die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, onder meer ingelig oor twee ander ministers wat by Eskom-korrupsie betrokke is.

Minister Gordhan het erken dat dit so aan hom gerapporteer is. Die vraag is daarom nie of hy daarvan weet of nie.

Dit maak die bewerings substantief en daarom is daar geen keuse nie as om dit wel deur ʼn ad hoc-komitee van die parlement te laat ondersoek.

Parlementslede het ʼn grondwetlike plig om toe te sien dat verantwoording oor die beweringe gedoen word.

Eintlik moes die parlement uit sy eie al opgetree het en minister Gordhan gevra het om te sê wie die ministers is wat by hierdie ernstige bewerings betrek word.

Hy is soos al die ander parlementslede verantwoordbaar teenoor die parlement en kan nie skuil agter die verskoning dat die betrokke owerhede die bewerings ondersoek nie.

Ons as lede van die parlement het die verantwoordelikheid om antwoorde hieroor te kry. Veral die ANC-regering met sy meerderheidstem skuld die publiek antwoorde op hierdie vrae.

Die ad hoc-komitee moet gevestig word om hierdie rol van verantwoording namens die publiek uit te voer.

Die ministers wie se name genoem word, moet voor die komitee verskyn en die ware feite moet op die tafel geplaas word.

Die publiek van Suid-Afrika wat swaar ly onder dit wat by Eskom gebeur, moet weet wie is hierdie ministers of adjunkministers.

Die tyd het aangebreek dat die skuldiges wat belastingbetalers se geld gewetenloos stroop, tronk toe gaan vir hul wandade en die vernietiging van Eskom.

PieterGroenewald

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!