Outeurs van artikel 25 in land se Grondwet sal moet pa staan indien grondgrype plaasvind

2016-05-26
Dr Pieter Groenewald

Die nuwe Wetsontwerp oor Onteiening het duidelik sy oorsprong in artikel 25 van Suid-Afrika se Grondwet en diegene wat dié artikel help skryf en ondersteun het, sal saam met die ANC moet pa staan as daar grondgrype in Suid-Afrika plaasvind, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor grondsake.

Dr. Groenewald sê die VF Plus sal teen die wetsontwerp stem, en was reeds in komiteestadium daarteen gekant.

Hy sê die beginsel van onteiening is nie vreemd nie. Dit is wêreldwyd van toepassing waar noodsaaklike ontwikkeling moet plaasvind, soos met die bou van brûe of paaie.

“In Suid-Afrika maak die ANC-regering dit egter ʼn politieke aangeleentheid. Die ANC wil hierdie wetsontwerp misbruik as emosionele politieke speelbal oor grond. President Jacob Zuma val in by die koor van die EFF wat sê wittes het grond gesteel.

“Sodoende jaag hulle emosies op. Dit is in werklikheid net ʼn verskuilde poging tot grondgryp in Suid-Afrika.

“Die aanhef van hierdie beoogde wet is artikel 25 van die land se Grondwet. Daar was instellings wat gesê het hulle sal hierdie wet beveg tot in die Grondwethof. Ek wil hulle vra om dit asseblief te doen.

“Die Vryheidsfront Plus wil sy kommer op rekord plaas dat die wetsontwerp in lyn kan wees met artikel 25 van Suid-Afrika se die Grondwet. Dan sal diegene wat artikel 25 in die Grondwet ingeskyf en ondersteun het, saam met die ANC moet pa staan as daar grondgrype in Suid-Afrika plaasvind.

“Die president het inderwaarheid gesê hy het ʼn nuwe wetsontwerp wat nou by die kabinet is, wat ʼn beperking gaan plaas op grondbesit. Daardeur gaan groot plase beperk word tot 5 000 hektaar en ondernemings soos plantasies tot 12 000 hektaar.

“Oor die res van die grond word duidelik gesê dit sal onteien word, en dit sal hierdie Onteieningswet wees wat gebruik sal word om grond te gryp moontlik sonder enige vergoeding aan die eienaar. Diegene agter artikel 25 sal dan moet pa staan,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!