Opheffing van krag-ramptoestand wys dit was onnodig

2023-04-05
Dr Pieter Groenewald

Die opheffing van die ramptoestand vir die kragkrisis wys dat die VF Plus van die begin af reg was oor die onnodigheid van die ramptoestand.

Die VF Plus het reeds met die afkondiging van die ramptoestand tydens president Cyril Ramaphosa se staatsrede gesê dit is moeilik om in te sien hoe dit enige oplossing kan bring vir die Eskom-krisis.

Hierdie siening is nou reg bewys. Daar kan tereg gevra word wat het aangaande die krisis verander en wat het danksy die ramptoestand verbeter sedert die aankondiging daarvan op 9 Februarie.

Dit is duidelik dat die regering ʼn hofsaak oor die geldigheid van die ramptoestand wil vermy omdat hy besef dit is onwettig.

Solidariteit en die Organisasie teen belastingmisbruik (Outa) het aangedui dat hulle die geldigheid van die ramptoestand in die hof sou betwis.

Die enigste wat sedert die ramptoestand rondom die kragkrisis gebeur het, was die aankondiging van die minister van finansies, Enoch Godongwana, oor die vrystelling wat aan Eskom verleen is oor die rapportering van onreëlmatighede besteding van alles wat daarmee gepaard gaan.

Die minister kon die ramptoestand gebruik het om dit te regverdig en dit is daarom insiggewend dat hierdie vrystelling teruggetrek is samelopend met die opheffing van die ramptoestand.

Die VF Plus is die steeds van mening dat die ANC-regering ramptoestande misbruik vir eie gewin.

Dit is daarom jammer dat my privaatlid-wetsontwerp aangaande parlementêre oorsig tydens ʼn ramptoestand nie aanvaar is nie.

Dit is juis opgestel toe dit duidelik geword het hoe spesiale regulasies dit moontlik gemaak het om die Covid-19-rampfonds te stroop sonder enige behoorlike oorsig.

Ek sal die moontlikheid ondersoek om die wetsontwerp met sekere aanpassings weer in te dien. Dit is belangrik dat ʼn meganisme geskep word om ongerymdhede tydens ʼn ramptoestand in die toekoms te voorkom.

Die kiesers van Suid-Afrika kan met die algemene verkiesing aanstaande jaar help om van die ANC ontslae te raak sodat wette soos hierdie in plek gestel kan word om korrupsie en bedrog tot voordeel van almal in die land uit te roei.

DrPieterGroenewald#Krag-ramptoestand

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!