Oos-Kaapse begroting: ANC-beleid en wanbestuur maak uitvoering onmoontlik

2023-03-15
Jaco Burger

Die beloftes wat die Oos-Kaapse LUR vir finansies, Mlungisi Mvoko, in sy begrotingsrede vir die 2023/24-finansiële jaar maak, is onuitvoerbaar as gevolg van die ANC-regering se gefaalde beleidsrigtings, soos regstellende aksie, en hul onvermoë om korrupsie en wanbestuur hok te slaan.

Die R1 miljard wat bewillig is vir die verbetering van skole-infrastruktuur word verwelkom, maar sal net ʼn verskil maak aan leerders se omstandighede as dit reg aangewend word en nie in ʼn swartgat van korrupsie verdwyn nie.

Die toestand van skole in die Oos-Kaap kan nie beter geïllustreer word as met die migrasie van inwoners na die Wes-Kaap en ander provinsies om beter onderrig vir hul kinders te verseker nie.

Daar is R21,8 miljard toegewys aan die Oos-Kaapse sukkelende openbare gesondheidsorg. Of dit ʼn verskil gaan maak is te bevraagteken gesien in die lig van die wanadministrasie van openbare hospitale en die gebrek aan menslike- en gesondheidsorghulpbronne.

Die 20 000 werksgeleenthede wat volgens die LUR in die vierde kwartaal van 2022 geskep is, hoofsaaklik in die landbou-, vervaardigings- en konstruksiesektore is verblydend, maar ʼn druppel aan die emmer in ag genome die provinsiale werkloosheidskoers van 42,4%.

Met die dreigende Onteieningswet en voortslepende beurtkrag sal hierdie tendens moontlik nek omgedraai word.

Die VF Plus stel voor dat die provinsie se omkeerstrategie die voortgesette implementering van kostebeheer insluit. Daar moet maatreëls wees om te verseker dat die beskikbare fondse op dienslewering eerder as op selfverryking en korrupsie verlore gaan.

Die Oos-Kaap is ʼn provinsie met vele uitdagings, maar ook baie potensiaal. Die politieke wil ontbreek egter by die regerende ANC om daardie potensiaal te ontsluit tot voordeel van al sy inwoners.

Die Oos-Kaap verdien beter as die ANC.

jacoburger

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!