Oorregulering van die private sektor met Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming sal werkloosheid laat toeneem

2021-11-16
Heloïse Denner

Dit is ʼn donker dag vir werkskepping en die vooruitgang van die private sektor in Suid-Afrika nadat die ANC met ʼn meerderheid in die parlement nog ʼn ondeurdagte en gefaalde ideologies-gedrewe wysigingswetsontwerp deurgedwing het.

Die VF Plus en ander opposisiepartye het vroeër daarin geslaag om die goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming te keer deur toe te sien dat daar nie ʼn kworum in die parlement is nie.

Die ANC het egter gesorg dat hy vandag die nodige aantal lede in die huis het om die wetsontwerp goedgekeur te kry. Ten einde sulke sinnelose en gevaarlike wetgewing in die vervolg stop te sit, is dit nodig dat die ANC se verteenwoordiging in die parlement tot onder 50% gedwing word in die volgende nasionale verkiesing.

Die VF Plus is ten sterkste gekant teen kosmetiese transformasieteikens en beperkende arbeidswetgewing wat sektorale teikens daarstel om transformasie op ʼn kunsmatige wyse tot nadeel van ekonomiese groei en werkskepping af te dwing.

Regstellende aksie-wetgewing verlig nie armoede nie en skep ook nie broodnodige werksgeleenthede nie. Tans is meer as 27 miljoen Suid-Afrikaners afhanklik van maatskaplike toelae wat onvolhoubaar is.

Die enigste wyse om armoede te verlig en werk te skep, is om ʼn gunstige omgewing vir ekonomiese groei te skep. Hierdie wetgewing doen egter die teenoorgestelde.

Die voorgestelde wysigingswetsontwerp sal aan die minister van arbeid en werkskepping die mag gee om sektorale rasgegronde teikens vas te stel.

Vrywillige voldoening aan billike indiensnameteikens deur private sektor-werkgewers sal ingevolge die wetswysiging nie meer van toepassing wees nie en strenger voldoening sal deur middel van sertifikate, soos deur die departement uitgereik, afgedwing word.

Dit is die VF Plus se standpunt dat die arbeidsmark tans oorgereguleer word. Wetgewing soos die Nasionale Minimumloon, die arbitrêre uitbreiding van onbillike kollektiewe bedingingsooreenkomste en wetgewing soos hierdie wetsontwerp, is teenproduktief en ʼn groot struikelblok vir werkskepping.

Hierdie beleid, tesame met ander mislukkings soos die land se onderwysstelsel, is besig om die ekonomie te vernietig en die meerderheid Suid -Afrikaners van die arbeidsmark uit te sluit.

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!