In 'n debat oor 'n saak van nasionale belang het die Nasionale Vergadering vandag oor onwettige mynbou en die maatskapike gevolge daarvan gedebatteer.
Die VF Plus het die geleentheid gebruik om die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, se aandag op 'n onwettige myn in die Emalahleni-munisipaliteit te vestig.
In sy reaksie het die minister gevra dat hierdie inligting aan hom voorsien word en dat hy die ondersoek sal deurvoer.
By 'n myn wat lank in onbruik was, het ontginning onlangs weer begin. In 'n woonbuurt 'n paar honderd meter daarvandaan, Jackaroo Park, het skade aan infrastruktuur en huise vinnig verskyn.
Terwyl die munisipaliteit volhou dat daar geen toestemming vir die mynbedrywighede is nie, ontken die departement van minerale hulpbronne en energie se plaaslike kantoor dat so iets plaasvind.
Satellietbeelde in die openbare domein toon egter goed ontwikkelde steenkoolwerwe.
Die VF Plus se plaaslike raadslid, Linda Vorster, het die departementele kantoor besoek om die kwessie te bespreek. Daar is sy op vernederende wyse opdrag gegee om die kantoor te verlaat en is onverrigter sake daar weg.
Hierop het minister Mantashe gereageer dat die raadslid alles met die saak te doen het. Die VF Plus sal 'n verslag aan hom stuur om dit volgens belofte te ondersoek.
Die VF Plus se vroeëre skrywe aan die departement se hoofkantoor het nie eens tot 'n ontvangserkenning gelei nie.
Raadslid Vorster het vandag 'n strafregtelike klag by die polisie ingedien. Hierdie inligting is ook tydens die debat met die minister gedeel.
Die VF Plus steun gewone mense wat magteloos is teen die wetteloosheid wat Suid-Afrika toenemend kenmerk.