Onkundigheid oor instandhouding in Emfuleni laat waterpype bars

2019-02-11
Die Redaksie

Verskeie klagte van gebarste water- en rioolpype word ontvang in Vanderbijlpark, Drie Riviere, Sonlandpark en Vereeniging en dit blyk dat onkundige instandhoudingspersoneel grootliks vir die probleem verantwoordelik is.

Uit ondersoeke blyk dit dat die drukafsluitingskleppe nie genormaliseer word ná die herstel van ’n gebarste pyp nie.  Dit veroorsaak dat die drukking tot 10 bar in die pype verhoog waarna ou pype op ander plekke in die toevoerlyn bars.

In Vanderbijlpark het ’n reuse riool-lekkasie ontstaan omdat die hoof-rioollyn se lugklep foutief is.  Rou riool het voor sake-ondernemings opgedam en verkeer moes selfs deur dit ry.

Die VF Plus is besorg oor die mate van onkundigheid van Emfuleni se instandhoudingspersoneel.  Die swak bestuur en leierskap, tesame met verouderde infrastruktuur veroorsaak groot verliese en ongerief vir die publiek.

"Swak finansiële bestuur lei daartoe dat net die grootste water- en riool-lekkasies herstel word. Die wagperiode vir herstelwerk neem dae tot weke. Geen gereedskap of materiaal is beskikbaar nie en  herstelwerk word ten duurste uitgekontrakteur," sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni.

"Die VF Plus gaan die munisipaliteit versoek om kontrakteurs wat onbevredigende werk lewer se kontrakte nie te hernu nie. Die party sal vra om die voorwaardes rondom kontraktoekennings te verskerp om te verseker kwaliteit werk word gelewer. Die nuwe burgemeester sal ook hieroor genader word," sê Senekal.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!