OB se ondersoek na Ramaphosa ontbloot haar onbevoegdheid

2019-06-26
Die Redaksie

"Die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, se ondersoek na pres. Cyril Ramaphosa onderstreep opnuut haar oënskynlike onbevoegdheid as OB aangesien dit buite haar mandaat val om klagte te ondersoek waarby staatsgeld nie betrokke is nie," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en parlementêre woordvoerder vir justisie en korrektiewe dienste

Mulder sê die OB verkwis haar kantoor se tyd en hulpbronne met ʼn ondersoek soos dié terwyl daar veel belangriker sake is soos die Vrede-Suiwelprojek waarby bedrog van honderde miljoene rande se staatsgeld betrokke is en wat steeds nie behoorlik ondersoek is nie.

"Artikel 182(1) van Suid Afrika se Grondwet spreek in besonder tot die werkswyse van ondersoeke na staatsake of die openbare administrasie waar enige vorm van onbehoorlike optrede vermoed word.

"Die kantoor van die OB is nie gevestig om beweerde strafregtelike oortredings te ondersoek waar geen skade gely is of veroorsaak is aan ʼn staatsentiteit nie. Beweerde geldwassery tussen private entiteite is nie deel van haar mandaat nie.

"In sodanige gevalle is die polisie die grondwetlik-aangewese staatsorgaan wat ondersoek moet instel na beweerde misdadige aktiwiteite.

"Die OB se werkswyse is sedert die aanvang van haar ampstermyn deurspek met foute wat ‘n vraagteken laat ontstaan haar bevoegdheid om die amp te beklee," sê Mulder.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!