Nie almal is deel van ANC se erfenis-vieringe nie (Debat in parlement: Erfenisdag)

2022-09-21
Heloïse Denner

Op Erfenisdag, 24 September, word die kulturele rykdom van Suid-Afrika se wye verskeidenheid inwoners erken en gevier.

Op die regering se amptelike webblad word dié dag in kleurryke taal gedefinieer as ʼn geleentheid om alle Suid-Afrikaners se kultuurerfenis te respekteer en te vier.

Die realiteit skets egter ʼn prentjie van kulturele ontheming van veral die Afrikaner in sy eie land. Vir die ANC-regering het kultuur-erfenis ʼn politieke speelbal geword wat skaamteloos gebruik en misbruik word om die ANC se ideologiese mislukkings te verbloem.

Die jongste voorbeeld is die reuse vlagpaal van meer as R22 miljoen waarmee die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, Suid-Afrikaners se harte wou laat warm klop. Dit terwyl miljoene werklose en honger mense van die land veel eerder ʼn vol maag as ʼn warm hart nodig het.

Ewe onlangs ook die minister se poging om die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl se naam te verander om meer ‘inklusief’ te wees. Om een groep se kultuur af te takel sou niks toevoeg tot die erfenis van ʼn ander nie. Ander monumente vir ander tale sou ʼn veel beter opsie wees.

Dit dien as bewys dat die regering met ʼn gesplete tong praat oor erfenis aangesien hy aktief besig is om sekere kulture se erfenis as boos voor te hou, dit uitkryt, marginaliseer, verstoot en verag.

Die staat behoort nie aktief betrokke te wees by kulturele erfenis nie, maar moet eerder onafhanklike organisasies befonds wat hulself vir die voortgesette bewaring en bevordering van kulturele erfenis beywer.

Sulke fondse moet behoorlik bestuur word, anders as wat tans die geval is met talle voorbeelde soos die Nasionale Kunsteraad, die Vrystaatse Raad vir Uitvoerende Kunste (Pacofs) en die Mzansi Filharmoniese Orkes, waaroor nog baie gelees gaan word.

Wanneer die ANC-regering ander se kultuurerfenis minag, sou dit hom loon om die lesse van die baie ou liedjie ‘The Lion Sleeps Tonight’ van Solomon Linda ter harte te neem.

Die pragtige liedjie wat mense sedert 1939 regoor die wêreld laat saamsing het, is deur ʼn Amerikaanse groep as hul eie gekaap. Dit sou ʼn bitter stryd kos voordat Linda eindelik erkenning sou kry as die skepper van die lied. Sy beloning ʼn karige duisend dollar.

Dit is hartseer en ironies dat die ANC-regering ewe harteloos die Afrikaner se kulturele erfenis gekaap het en dit misbruik vir eie politieke gewin.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!