Ná 25 jaar van ANC-regering staan Suid-Afrika op die rand van die afgrond

2019-03-20
Die Redaksie

"Suid-Afrika is vir alle praktiese doeleindes ʼn mislukte staat. Dit is tot waar die ANC-regering die land in 25 jaar gebring het. ʼn Land wat vandag ʼn sterk ekonomie moes gehad het met werk vir almal en ʼn groeiende middelklas. Die teenoorgestelde het gebeur," het Anton Alberts, VF Plus LP en partyvoorsitter Dinsdag tydens 'n debat in die parlement gesê.

Die debat het gehandel oor die groei en transformering van Suid-Afrika van ‘n apartheidstaat na ‘n vooruitstrewende demokrasie.

Hier volg Alberts se toespraak:

Onder die ANC is die staatskoffers leeg gesteel, kaders dra elke staatsbate weg waarop hulle hul hande kan lê en misdaad is buite beheer. Die daaglikse bestaan van Suid-Afrikaners is hel en daar is net onsekerheid wat voorlê vir meeste mense. Hoe het ons hier gekom?

Daar was eens ʼn droom dat Suid-Afrika die leidende lig van die wêreld sou wees oor hoe om 'n diverse en komplekse samelewing suksesvol te bestuur. Nou is ons eie ligte nie eens aan nie. Hoe het ons hier beland?

Ons het hier beland weens die wanbestuur van die ANC. Die ANC het die droom vernietig. Die rede hiervoor is dat die ANC se ligte dalk aan is, maar daar is niemand tuis nie. Terwyl die ANC oor die vierde industriële rewolusie praat, sukkel hy steeds om met sy denke uit die steentydperk te kom.

Die ANC se ideologiese idees is so outyds dat ons kan verstaan waarom ons eers elektrisiteit gehad het voordat ons kerse gekry het. Vandag is ons volledig in die kerstydperk en die naaste wat die ANC aan die vierde industriële revolusie sal kom, is  fase 4-beurtkrag. Dit is inderdaad tragies.

Die ANC is klaarblyklik onbewus van die feit dat hy met menselewens speel en enige vooruitsig vir 'n toekoms vir hulle vernietig. Dit wil voorkom of mense wat met slegs 30% in die skool geslaag het, in beheer is van die land. Dit is tyd om hulle te vervang met bevoegde mense wat 'n komplekse land kan bestuur.

Die VF Plus se boodskap aan die ANC is om plek te maak vir diegene wat werklik omgee vir die land en sy mense. Ons sal die kerse met elektrisiteit vervang. Ons sal bewese beleid implementeer wat op 'n volhoubare wyse werk sal skep. Ons treine sal nie gaan staan met ‘n president binne-in nie, maar sal elke dag doeltreffend werk vir  alle mense. Ons sal seker maak sake word buite die invloedsfeer van swart ekonomiese bemagtigingskaders gedoen sodat dit werklik inklusief is.

Die ligte wat ons nou sien flikker binne die ANC, is die laaste kerse wat uitgaan soos die Titanic onder die water verdwyn. Die ANC se einde is naby.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!