MRK moet sê oor ondersoek teen adv. Buang Jones

2019-11-12
Die Redaksie

"Die uitlating van adv. Buang Jones, nasionale hoof van regsdienste by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) dat daar geen formele ondersoek teen hom is rakende die Eben Etzebeth-aangeleentheid nie, bring die integriteit van die MRK verder in die gedrang," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier. 

"Die MRK moet nou sê of hy besig is om die publiek te mislei oor die aangeleentheid en presies wat die situasie is rakende die ondersoek teen Jones oor die uitlatings wat hy verlede maand oor Etzebeth gemaak het.

 

"Jones het Etzebeth in sy uitlatings reeds skuldig bevind en die VF Plus het beswaar daarteen aangeteken aangesien dit bevooroordelend was sonder dat Etzebeth die geleentheid gebied is om te reageer."

 

"Luidens berigte het Jones vanoggend in die parlement enige formele ondersoek van die MRK teen hom ontken tydens sy onderhoud met LP’s vir die pos van adjunk-openbare beskermer (OB). Hy het gesê die MRK is slegs besig met ʼn “feite-ondersoek” wat binnekort afgehandel sal wees.

"Volgens hom het die MRK ook twee regsmenings oor die voorval ingewin waarin hy “vrygespreek” is.

 

"Die MRK moet nou die verwarring oor die ondersoek teen Jones uit die weg ruim. Indien die MRK nie oop kaarte gespeel het oor die ondersoek nie, sal dit ernstige vrae laat ontstaan oor die funksionering en partydigheid van die MRK en sy amptenare."

 

"Indien Jones wel ondersoek word, beteken dit hy het nie oop kaarte met die parlementslede gespeel nie en dit sou hom outomaties diskwalifiseer vir pos van adjunk-openbare beskermer," sê Groenewald.

 

DrPieterGroenewaldMRK

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!