Die deurlopende opwaartste kurwe in misdaadstatistiek, soos wat die jongste kwartaallikse syfers (Julie tot September) vandag weer aantoon, dien as genoegsame bewys dat misdadigers toenemend besig is om veld te wen teen wet en orde in Suid-Afrika.
Dit is egter eers wanneer ʼn vergelyking getref word tussen die misdaadstatistiek van tien jaar gelede (vanaf begin 2012) dat die skokkende werklikheid oor die toename in misdaad werklik duidelik word. Een voorbeeld is moord wat met sowat 75% toegeneem het.
Dit is ʼn duidelike aanduiding van die agteruitgang in die polisie en die ANC-regering moet die skuld hiervoor kry weens ʼn verskeidenheid redes. Hiervan is die groot verlies aan kundigheid hoofsaaklik weens regstellende aksie (RA) een van die grootstes.
Hierby tel faktore soos die wegdoening met spesialis-eenhede, ʼn rits swak politieke aanstellings as nasionale polisiekommissarisse en ʼn algehele agteruitgang in die polisie se topstruktuur met gevolglike struktuursverbrokkeling soos gesien kan word in die agteruitgang van laboratoriums vir DNS-toetsing, die hantering van vuurwapenlisensie-aansoeke en die effektiwiteit van die polisie se intelligensiediens.
Geen nuwe rekrute is ook die afgelope twee jaar in diens geneem nie. Dit laat die polisie tans met ʼn agterstand van 14 000 lede.
Wat vandag se statistiek aanbetref, is daar ʼn toename in twee van die gevreesde Trio-misdade teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Verlede jaar in dié tydperk is 5 107 moorde aangemeld teenoor die 6 163 van die laaste kwartaal, ʼn styging van 1 056.
Suid-Afrika se moordsyfer staan nou op 67,5 per dag en die gemiddelde het opgeskiet tot 41,7 per 100 000 van die bevolking waar dit lank sowat 35 per 100 000 was; toe reeds van die hoogste in die wêreld. Die wêreldgemiddelde is 6,1 per 100 000 (World Population Review).
Wat die ander twee Trio-misdade aanbetref, het motorkaping toegeneem vanaf 4 803 tot 4 973 terwyl rooftogte by woonhuise effe afgeneem het vanaf 5 760 tot 5372.
ʼn Vergelyking teenoor tien jaar gelede (2012) wys dat moord toegeneem het vanaf 14 092 tot die huidige sowat 24 652 (gemiddeld bereken van laaste twee kwartale), motorkaping van 4 351 tot sowat 19 892 en rooftogte by woonhuise van 14 966 tot sowat 22 264.
Verkragting het teenoor dieselfde kwartaal verlede jaar toegeneem van 8 922 tot 9556. Ander oortredings van ʼn seksuele aard, soos seksuele aanranding (vanaf 1 758 tot 1 753), het effe afgeneem.
Plaasaanvalle wys ʼn deurlopende styging in die afgelope drie jaar vir die kwartaal (2019/20: 12, 2020/21: 13 en 2021/22: 15) terwyl ontvoering die misdaad is wat die skerpste toeneem. Die polisie sal dringende aandag hieraan moet gee voordat dit ook buite beheer eskaleer.
In die polisie se voorlegging vanoggend het die minister, Bheki Cele, gesê hy is tevrede met die vordering wat teen misdaad gemaak word en dat die polisie besig is om die krisis rondom DNS-toetsing ‘reg te ruk’.
Ook die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole het gesê die syfers lyk ‘beter’ as in die vorige kwartaal.
Hieruit is dit vir die VF Plus duidelik dat die twee belangrikste ampsdraers wat die stryd teen misdaad aanbetref, nie besef hoe kritiek die misdaadsituasie in die land is nie en dat hulle ʼn vals beeld aan die publiek probeer voorhou oor die suksesse wat behaal word in die stryd teen misdaad.
Soos met staatskaping gebeur dit op die ANC-regering se beurtwag en die harde statistiek is daar vir almal om te sien. Dit sou nie help om later onkunde voor te hou soos wat pres. Cyril Ramaphosa nou oor staatskaping doen nie.