Misdaadstatistiek: Trio misdade styg gemiddeld 51% oor vyf jaar

2017-10-24
Dr Pieter Groenewald

“Misdaadstatistiek vir 2016/2017 toon aan dat die trio misdade (motorkapings, rooftogte by woonhuise en rooftogte by nie-woonhuise), die misdade wat die meeste deur die publiek gevrees word, vir die vyfde agtereenvolgende jaar gestyg het met ʼn gemiddeld van 51,1%. Dit bevestig dat die publiek rede het om te glo misdaad in Suid-Afrika neem toe en vertroue in die polisie begin verloor,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se leier en hoofwoordvoerder oor polisie.

Volgens die nuutste misdaadstatistiek het moord (1,8%), poging tot moord (0,4%), motorkapings (14,5%), roof by woonhuise (7,3%) en rooftogte by nie-woonhuise (5,0%) vir die vyfde agtereenvolgende jaar gestyg het.

Wat onstellend is, is dat wat die trio misdade betref het motorkapings die afgelope vyf jaar met 77,5%, rooftogte by woonhuise met 33,2% en rooftogte by nie-woonhuise met 42,6% gestyg het.

Hoewel die statistiek oor plaasmoorde en –aanvalle wel bekend is aan die polisie wou hulle dit nie bekend maak in die vergadering nie. In die 2015/2016 verslagjaar was daar 49 plaasmoorde en 446 aanvalle. Die indruk word hierdeur gewek dat daar ʼn aansienlike toename was in plaasmoorde en die polisie daarvan wil wegskram in die openbaar. Die onderneming is aan dr. Groenewald gegee dat dit wel later vanmiddag aan hom bekend gemaak sal word.

Dr. Groenewald sê die minister van polisie, mnr. Mbalula praat baie en maak soms goeie voorstelle soos dat die polisie professioneel, gedissiplineerd en verantwoordbaar gehou moet word, maar dit moet nou in die praktyk deurgevoer word.

“Die misdaadsituasie in Suid-Afrika is te ernstig om net politieke retoriek te gebruik om die indruk te wek dat daar sterk teen misdaad opgetree sal word, dit moet daadwerklik gedoen word,” het dr. Groenewald gesê.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!