Misdaadstatistiek: Geweldsmisdaad bly styg en wek kommer

2017-03-03
Dr Pieter Groenewald

Die eerste kwartaalikse (semester) bekendmaking van misdaadstatistiek word verwelkom deur die Vryheidsfront Plus, aangesien die party etlike jare reeds daarvoor vra. Die misdaadstatistiek vir die eerste semester wat strek vanaf 1 April 2016 – 30 September 2016 is vir die eerste keer aan die portefeuljekomitee van polisie bekend gestel.

“Hoewel dit blyk dat 17 ernstige misdade wat deur die gemeenskap rapporteer word in hierdie tydperk ʼn afname van 0,03% toon, moet die publiek nie mislei word nie. Kontakmisdade (moord, poging tot moord, ernstige aanranding, gewone aanranding, gewone roof en seksuele misdaad) het in die tydperk egter gestyg (0,1%) en die trio-misdade (motorkapings, roof by woonhuise en roof by nie residensiële wonings) het skerp met 14,3% gestyg.

“Geweldsmisdaad in Suid-Afrika het steeds gestyg wat kommerwekkend is. Moord (1,3%), poging tot moord (0,6%) en roof met verswarende omstandighede (6,9%) het in die verslagtydperk gestyg. Al drie hierdie misdade het die afgelope vier jaar opeenvolgend gestyg en nou weer,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus-leier en hoofwoordvoerder oor polisie.

“Die trio-misdade naamlik roof by woonhuise (5,7%), nie-woonhuise (8,1%) en motorkapings (14,3%) het skerp gestyg in die verslagtydperk. Die gevreesde misdaad, roof by woonhuise, het reeds vier jaar agtereenvolgens gestyg – nou weer in die tydperk met 5,7%.

“Motorkapings ruk handuit en het met 14,3% gestyg en dit het ook vier jaar agtereenvolgens gestyg. Die algemene publiek het dus regverdiging om te sê hulle voel onveilig en dat misdaad in Suid-Afrika net toeneem.

“Statistiek oor plaasmoorde en –aanvalle toon dat vanaf Julie 2016 – einde Desember 2016 het 27 plaasmoorde in 195 plaasaanvalle plaasgevind,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!