Minister van polisie maak hom skuldig aan aanhitsing tot geweld teen boere

2020-09-22
Die Redaksie

"Die minister van polisie, Bheki Cele, se uitlatings dat boere nie moet kla as hulle seerkry nie, is niks anders nie as subtiele aanhitsing tot geweld ten boere. Dit is duidelik dat die minister kant kies en hy blaas op hierdie wyse geweld aan tussen boere en grondbesetters," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

"Wat gister se vergadering op Normandien by Newcastle in KwaZulu-Natal aanbetref, is dit hoogs onaanvaarbaar dat die minister ná klagtes van die gemeenskap sê hy sal ʼn saak teen ʼn boer laat heropen nadat die saak reeds in ʼn hof gedien het en die boer onskuldig bevind is aan die bewerings teen hom.

"Dit beteken die minister toon nie respek vir die reg nie en dat hy die regspraak ondermyn.

 

"Die VF Plus kan daarom vra wie is die minister van polisie om te besluit ʼn saak wat afgehandel is, mag heropen word. Dit sou beteken Suid-Afrika word ʼn polisiestaat wat totaal onaanvaarbaar is."

 

"Minister Cele moet nie die indruk probeer wek dat hy ernstig is oor plaasaanvalle en -moord en dit wil oplos, maar terselfdertyd vergaderings met die gemeenskap hou wat ʼn platform bied om boere aan te val en vals te beskuldig nie.

" ʼn Vergadering soos dié op Normandien waar Glen Rafferty (63) en sy vrou Vida (60) drie weke gelede vermoor is, dra bloot daartoe by om spanning en polarisasie in die gemeenskap te veroorsaak.

 

"Die minister moet te alle tye onpartydig optree en nie uitsprake maak wat die indruk skep dat hy kant kies nie. Dit is die polisie se plig om alle grondeienaars se regte te beskerm, ook teen onwettige besetters wat wel vir grondeienaars ʼn bedreiging inhou."

 

"Minister Cele moet eerder sy aandag daaraan wy om toe te sien dat die polisie se landelike beveiligingsplan ten volle uitgevoer word en om bykomende reserviste aan te stel en om landelike gemeenskappe en boere in die besonder te beskerm en by te staan.

"Voorkomende optrede kan verskerp word in stede daarvan om vergaderings te hou waar polarisasie geskep word. Dit wil voorkom of die minister politieke munt uit die vergadering probeer slaan en hy moet weet die boere sal nie deel daarvan wees nie," sê Groenewald.

 

 

DrPieterGroenewaldPlaasmoordeKZNBhekiCeleNormandien

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!