Minister skep donker prentjie oor land se finansies

2022-10-26
Wouter Wessels

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het vandag in sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) of ‘mini-begroting’ ’n donker prentjie geskets van Suid-Afrika se ekonomie en fiskus.

Hy het toegegee dat daar vele risiko’s is wat ekonomiese groei in die kort- tot lang termyn strem.

Die chaos wat voor die aanvang van die minister se toespraak in die parlementsitting in Kaapstad se stadsaal geheers het, spreek tot die groot krisis waarin Suid-Afrika verkeer. Die EFF se gedrag dra geensins by tot beleggersvertroue nie.

Die minister het in sy toespraak ’n volledige prentjie geskets van die land se welbekende probleme soos die krisisse by Eskom en beurtkrag asook die staat se salarisrekening en bankrot staatsentiteite. Geen daadwerklike oplossing is egter hiervoor gebied nie.

Hy het wel die moontlikheid genoem dat die staat in die toekoms ’n redelike deel van Eskom se skuldlas sal oorneem, maar nie gesê hoeveel nie.

Om bloot te sê daar word aan ’n oplossing vir die Eskom-probleem gewerk, skep geen vertroue nie. Eskom se probleme kom nie van gister nie.

Nog ’n skynbaar onoplosbare probleem, die staat se salarisrekening, is buite verhouding met die res van die wêreld. So-ook die verhouding tussen die staat en private sektor se salarisse.

Ook hiervoor word geen oplossing gebied nie buiten dat daar gehou gaan word by die huidige verhoging van 3%. Die betrokke vakbonde sal moontlik nie daarmee tevrede wees nie.

Die staat se skuld is steeds buite beheer en beloop tans R4,75 biljoen. Die koste om dit te finansier, is geweldig hoog en plaas groot druk op die fiskus.

Alhoewel daar 'n belastingmeevaller van R83 miljard is, neem die begrotingstekort en die staat se skuld steeds toe. Die finansieringskoste van die skuld beloop tans R307.7 miljard.

Indien die staat 'n groot gedeelte van Eskom se skuld sou oorneem, kan dié finansieringskoste met tot R15 miljard toeneem.

Die begrotingstekort word gereken op R323 miljard oftewel 4.9% van die bruto binnelandse produk (BBP).

Die belastingmeevaller moet daarom baie oordeelkundig aangewend word om die ekonomie te stimuleer en nie om net onmiddellike tekorte aan te spreek nie.

Dit lyk in hierdie stadium of ’n groot deel daarvan aangewend gaan word vir die finansiering van staatskuld en om gefaalde staatsentiteite te red.

Deur dit eerder te gebruik vir die herstel van infrastruktuur sou ’n beter toekoms-belegging wees en sal terselfdertyd werk skep en ekonomiese groei aanwakker.

Volgens die minister moet infrastruktuur wel prioriteit geniet. Die realiteit is egter dat die teenoorgestelde gebeur en die verval van infrastruktuur neem by die dag toe sonder enige vooruitsig op verbetering.

Strukturele hervorming wat reeds in werking gestel moes wees, het nieteenstaande besteding nie gerealiseer nie. Dit help niks die minister sê net dit moet gedoen word nie. Dit is twee jaar gelede al aangekondig maar niks gebeur nie.

’n Bedrag van R23.7 miljard word aan Sanral toegeken om agterstallige skuld van die entiteit te delg.

Daar word ook ’n bykomende R204.7 miljoen aan Denel toegeken om die gefaalde entiteit se skuldposisie te verlaag en 'n verdere R3.4 miljard om 'n omkeerstrategie te bewerkstellig.

In hierdie stadium lyk die land se finansiële toekoms na ’n duister tonnel met besteding en skuld wat saam met maatskaplike behoeftes toeneem sonder enige teken van ekonomiese groei.

Dit is ’n gevaarlike situasie wat nie volhoubaar is nie. Daar moet in 2024 van die ANC ontslae geraak word voordat die land totaal vernietig is.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!