Matjhabeng - van goudveld na rioolveld onder ANC

2019-08-15
Die Redaksie

Die VF Plus het  Donderdag‘n strafregtelike klag aanhangig gemaak teen die burgemeester, Nkosenjani Speelman, en munisipale bestuurder, Elias Tsoaeli, van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit oor die ineenstorting van dienste in die munisipaliteit.

Inwoners van regoor die munisipale gebied word geteister deur die probleem van riool wat in strate en in hul erwe inloop weens swak instandhoudingswerk aan infrastruktuur.

In die woongebied Doorn in Welkom, was inwoners se erwe verlede week vir dae lank onder riool weens stukkende rioolpype wat nie reggemaak is nie.

Eers ná druk van die VF Plus, is die lekkasies herstel.

 

"Inwoners van Vrystaatse munisipaliteite word die meeste benadeel deur die ANC se kaderontplooïng"

 

"Die uitvoerende beamptes van die munisipaliteit moet aanspreeklik gehou word vir die maandelange skending van inwoners se grondwetlike reg tot ‘n veilige omgewing. Dit is onaanvaarbaar dat munisipaliteite toegelaat word om tot so ‘n mate te verval dat dit gesondheidsrisiko’s vir inwoners begin inhou," sê Armand Cloete, VF Plus-LP in die NRP (Vrystaat)

Matjhabeng is een van die grootste vrugtelose verkwisters van belastinggeld in die land.

In die vorige finansiële jaar het die munisipaliteit R818 miljoen se vrugtelose uitgawes aangegaan. ʼn Deel daarvan was vir water- en sanitasiedienste.

 

"Die VF Plus ag die ANC se nalatigheid as krimineel van aard"

 

Bykomend daartoe het die munisipaliteit sedert 2012 reeds meer as R29 miljoen bestee aan 'n afvalbestuursaanleg wat steeds nie funksioneer nie.

Die VF Plus het die klag by Welkom se polisiekantoor aanhangig gemaak rakende die munisipaliteit se oortreding van die Nasionale Omgewingsbestuurswet. Artikel 24 van die Grondwet bepaal dat elke mens die reg tot ʼn omgewing het wat nie skadelik is vir sy welsyn of gesondheid nie.

"Inwoners van Vrystaatse munisipaliteite word die meeste benadeel deur die ANC se kaderontplooïng in kritieke diensleweringsposte. Die voortslepende probleem word nie aangespreek nie en inwoners van Matjhabeng is weer die slagoffers van die ANC se onverskillige houding teenoor dienslewering.

"As administratiewe en politieke hoofde is Tsoaeli en Stuurman grondwetlik verplig om seker te maak dat inwoners kritieke dienste ontvang.

"Die VF Plus ag die ANC se nalatigheid as krimineel van aard.

"Die VF Plus-raadslid, Susan Taljaard, sal aanhou om die ANC se diensprobleme aan te spreek, maar dit is die verantwoordelikheid van die ANC om die munisipaliteit behoorlik te bestuur.

"Die VF Plus sal in die belang van die publiek aanhou terugslaan teen swak dienslewering en die ANC se skending van inwoners se menseregte," sê Cloete.

MatjhabengSusanTaljaardArmandCloete

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!