Voorvalle van massamoord in Suid-Afrika is besig om skerp toe te neem. Vanaf 1 April 2019 tot 30 Desember 2022 is 5 709 mense in die land in 2 446 voorvalle vermoor.
Die minister van polisie, Bheki Cele, het dit bekend gemaak in antwoord op ʼn parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. (Vraag en antwoord hierby aangeheg).
Buiten die moordsyfer is dit ook onstellend dat alhoewel 1 511 persone in verband met die moorde in hegtenis geneem is en in die hof verskyn het slegs 103 - ʼn skrale 6,8% - skuldig bevind is.
Anders gestel, van die 1 511 persone wat in hegtenis geneem is, is 1 408 onskuldig bevind. Dit is ʼn aanduiding van swak ondersoekwerk en sal verduidelik moet word.
Massamoord is waar twee of meer persone in dieselfde voorval vermoor word.
Hierdie voorvalle het in die boekjare 2019/20 tot 2021/22 jaarliks toegeneem van 438 voorvalle en 1 009 sterftes in 2019/20 tot 769 voorvalle en 1 791 sterftes in 2021/22.
Die meeste voorvalle en sterftes vind in KwaZulu-Natal plaas met Gauteng daarnaas.
Met ʼn moordsyfer van vyf keer meer as die wêreldgemiddeld (7/100 000 en Suid-Afrika 36/100 000), die omvang van massamoord en ander misdaad in Suid-Afrika, die probleme in die polisie en die onvermoë om misdadigers suksesvol te vervolg, is dit duidelik dat die staat nie die burgers van die land teen misdadigers kan beskerm nie.
Die jongste misdaadstatistiek bewys dat misdaad buite beheer raak en minister Cele moet die verantwoordelikheid daarvoor neem.