Mangaung vermors 13 miljard liter water

2019-01-09
Die Redaksie

Swak instandhouding deur die ANC in Mangaung (Bloemfontein) het daartoe gelei dat die metro verlede jaar meer as 13 miljard liter water verloor het weens lekkasies wat nie herstel was nie.

Dit is luidens ‘n antwoord op ‘n VF Plus-parlementêre vraag (onderaan verklaring) aan die minister van water en sanitasie, Gugile Nkwinti.

Anders bereken, vermors die metro meer as 36 miljoen liter water per dag. Die waarde van die water wat verlore gegaan het, beloop volgens die metro se eie tariewe meer as R233 miljoen.

"Die metro is die grootste watervermorser terwyl vuisvoos betalende inwoners aanhou opdok"

 

"Terwyl die sentrale streek sukkel om van die afgelope paar jaar se droogte te herstel, het belangrike waterbronne in die tydperk weens swak herstelwerk verlore gegaan. Gereelde watertekorte is ook in 2018 in die metro ervaar weens vervalle waterinfrastruktuur en gereelde wanbetaling aan die waterverskaffer, Bloemwater," sê Tammy Wessels, VF Plus-LPw in die Vrystaat.

Wessels sê Mangaung-metro-munisipaliteit is die grootste watervermorser terwyl vuisvoos betalende inwoners aanhou opdok aan bykomende heffings om water te spaar.

Sy sê indien die metro aanhou om self water te mors deur nie lekkasies te herstel nie, sal sy planne om waterbronne uit te brei, van die begin af ‘n mislukking wees. Die metro sal net meer water hê om te mors.

"Die VF Plus neem verder kennis van Mokonyane se antwoord dat ‘n verlaging in die droogtebesparingsheffings (van 20% na 15%) regverdig word na verbeterde damvlakke in Mei 2018.

"Die VF Plus sal die metro versoek om die droogteheffings aan te pas om verligting aan vuisvoos inwoners te bring deur ‘n mosie in die verband in die raad in te dien.

"Die VF Plus sal ook versoek dat daar dringend ‘n oudit gedoen word op die metro se waterpypleiding sodat daar vir dringende instandhoudingswerk begroot en beplan kan word.

"Die tyd het aangebreek dat die ANC verantwoordelik gehou word vir sy mislukkings in die Vrystaat.

"Kiesers het in vanjaar die geleentheid om terug te slaan en die krane vir die ANC se vermorsing toe te draai deur te stem vir beter omstandighede in veelparty-regerings, waarvan die VF Plus reeds deel is en suksesse behaal. Die VF Plus wil ook dieselfde sukses na Mangaung en die res van die Vrystaat bring," sê Wessels.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!