Mangaung-begroting bied (weer) geen oplossings nie

2019-04-10
Die Redaksie

"Die Mangaung-metro-munisipaliteit (MMM) kan nie bekostig dat die ANC voortgaan om betalende inwoners se geld te mors met halfhartige en doellose begrotings wat nie die behoeftes van die metro aanspreek nie," sê Devar Smit, VF Plus-raadsmid in die Mangaung Metromunisipaliteit.

Smit sê die kapitaalbegroting van die MMM wat Dinsdag, amper twee weke na die wetlik-verpligte datum voor die stadsraad gedien het, is bloot ‘n herhaling van die vorige finansiële jaar se begroting. Dit wil voorkom asof die begroting van die vorige jaar net so gebruik is, met slegs die datum wat aangepas is.

"Die ANC het nie ‘n duidelike plan om Mangaung se finansiële en diensleweringskwessies aan te spreek nie. Intussen kom die voortslepende krisis met instandhouding van infrastruktuur, soos paaie en waterpype, inwoners duur te staan.

"Die ANC se krisisbestuur bring nie broodnodige ekonomiese groei in die metro nie. Die VF Plus sal voortgaan om die metro verantwoordelik te hou en begrotingsafwykings te moniteer om te keer dat ‘n onnodige aansuiweringsbegroting verder deur die ANC vermors word.

"Die tyd het aangebreek dat kiesers op 8 Mei vanjaar saam met die VF Plus terugslaan teen die ANC se gebrek aan politieke integriteit om daadwerlkike oplossings vir diensleweringsprobleme te bied.

"Die VF Plus het reeds suksesse in die veelpartyregerings regoor die land bereik en wil dieselfde hoop vir Vrystaters bring," sê Smit.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!