Mangaung-begroting: “Begroting vir Armes” maak mense armer

2019-05-31
Die Redaksie

"Die begroting en die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) van die Mangaung-metro-munisipaliteit wat Vrydag tydens ‘n raadsvergadering ter tafel gelê is, dien slegs die ANC-raad, sy politieke basisse en meelopers," sê Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid in Mangaung.

Die VF Plus het teen die begroting gestem.

"Die sogenaamde ‘Begroting vir Armes” dien nie die weerloses in die metro nie.  Dit is duidelik uit Moody’s se oorweging om die metro tot rommelstatus af te gradeer dat die finansiële bestuur en beplanning ver tekort skiet, sê Van Deventer.

Die redes wat deur die graderingsagentskap aangevoer word, is onder meer:

  • Die voortslepende swak operasionele en likiditeitsvermoë.
  • Operasionele verhogings van meer as 7% per jaar.
  • Drie jaar se negatiewe operasionele- en inkomstebalans.
  • Altesame 83% van debiteurerekeninge wat meer as 90 dae agterstallig is.

"Die ANC misluk jaar na jaar om by die begroting te hou en die GOP is jaar na jaar dieselfde dokument met ‘n aangepaste datum. 

"Intussen is die ANC planloos om ontwikkelings soos die Bloemfontein-dieretuin, die N8-koridorontwikkeling en die geïntegreerde stedelike vervoerstelsel af te handel. Inwoners kry geen waarde vir geld vir die duisende rand wat aan konsultasies en beplanning daarvoor aangewend is nie.

"Terwyl die ANC aanhou om Mangaung se finansies soos ‘n bodemlose pit te misbruik, sal belastingbetalers in die komende finansiële jaar meer as inflasie moet opdok vir dienste. Die gemiddelde 10%-verhoging wat die begroting voorstel, is nie in die belang van arm mense nie. Dit verarm alle inwoners.

"Terwyl wykstoelaes in die metro nie meer bestaan nie, is daar nie kontant beskikbaar vir dienste wat in die metro se gemeenskappe gelewer moet word nie. Dienste word nie behoorlik gelewer nie en vooruitgang in die metro is nie moontlik nie.

"Die VF Plus sal aanhou om weerstand te bied teen die ANC se plundering van Mangaung se fondse en sorg dat die regerende party vir inwoners werk, nie anders om nie," sê Van Deventer.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!