Lesufi se mislukkings onverdedigbaar

2019-11-26
Dr Pieter Groenewald

"Onderwys in Gauteng is in ʼn krisis met byna 15 000 leerlinge wat hierdie week nog nie plek het in skole nie, ʼn ondersoek van die openbare beskermer na die mislukte sentrale aanlyn-registrasiestelsel en sowat R2 miljard se onreëlmatige- en onderbesteding in die laaste twee finansiële jare," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Dit is daarom verstommend dat die DA keer op keer opkom om Panyaza Lesufi te verdedig en hom voorhou as ʼn bekwame en verantwoordelike LUR. Sy onbevoegdheid, onverbloemde afkeer in Afrikaans en sy politieke speletjies ten koste van kinders, is die oorsaak van die ongekende onderwyskrisis in dié provinsie.

"Lesufi se optrede en mislukkings as LUR is onverdedigbaar. Sy departement se sentrale aanlyn-registrasiestelsel is só ʼn groot mislukking dat die openbare beskermer (OB) dit gaan ondersoek nadat die VF Plus ʼn klag daaroor by die OB ingedien het.

"As LUR is hy verantwoordbaar vir sy departement en ongeag van die geldigheid van bewerings rakende die R800 miljoen wat sy departement in die 2018/2019-boekjaar wanbestee het, moet Lesufi volle verantwoordelikheid aanvaar vir  wat in sy departement gebeur en moet hy verantwoording doen daaroor.

 

"In die lig hiervan is dit onverstaanbaar dat die DA se skaduminister vir onderwys in Gauteng, Khume Ramulifho, Lesufi ʼn verantwoordelike LUR noem terwyl hy besig is om onderwys in Gauteng groot skade te berokken."

 

"Verlede jaar het Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, Lesufi ook as uiters bekwaam en verantwoordelik voorgehou deur aan hom byna ʼn onderskeidingspunt van 75% toe te ken vir sy werk as LUR vir onderwys.

"Die DA het Lesufi selfs besing as ʼn persoon met verskeie “deugde” soos ʼn “duidelike visie” oor waarheen hy met Gauteng se onderwysdepartement op pad is en dat hy ʼn ‘groot rol’ daarin speel om onderwys in Gauteng te “moderniseer”.

 

"Die VF Plus huldig presies die teenoorgestelde mening van Lesufi. Hy voer ʼn doelbewuste veldtog waarin Afrikaans en Afrikaanse skole geteiken word en deur sy onbevoegdheid is hy besig om te dobbel met die toekoms van leerlinge van alle kleur in die provinsie."

 

"Dit is in die belang van alle Suid-Afrikaners om saam te staan om hom uit sy pos te laat verwyder aangesien die ANC duidelik die DA se siening deel oor Lesufi se deugde en bevoegdhede," sê Groenewald.

LesufiDrPieterGroenewald

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!