Lesufi moet rasse-balk uit sy eie oog haal voor hy die VF Plus aanval oor SEB

2021-10-12
Adv Anton Alberts

Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, moet die rasse-balk uit sy eie oog haal voordat hy die VF Plus aanval oor die party se ferm posisie teenoor swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Indien Lesufi eerlik wou wees oor die ANC se ekonomiese beleid in die algemeen en meer besonder die werking van SEB, sal hy moet toegee dat dit gefaal het gegewe die rekord-hoë werkloosheidsyfers in die land en die skrikwekkende armoede onder alle Suid-Afrikaners. Indien enigiemand tot nadeel van swart mense in die land optree, is dit die ANC self.

Onder ANC-bewind het armoede onder alle bevolkingsgroepe gestyg en daar bestaan geen statistiese bewyse dat SEB op enige wyse swart mense op ʼn breë basis opgehef het nie. Trouens, SEB bevoordeel net ʼn klein elite groep polities-gekonnekteerdes tot nadeel van die meerderheid armes. Dit blyk dus dat Lesufi net so min weet van ekonomiese ontwikkeling as van gehalte onderwys.

Die VF Plus het besluit om te reageer op ʼn aanval wat Lesufi op die party deur Twitter geloods het waarin hy kennis geneem het van die VF Plus se verwerping van SEB as ʼn gefaalde ekonomiese instrument.

Die VF Plus vind dit verder lagwekkend dat Lesufi SEB kan verdedig terwyl meer as R400 miljoen vermors is deur sy onderwysdepartement vir die sogenaamde diep skoonmaak van skole wat nie nodig was nie. Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het bevind dat talle van die tenders wat toegeken is, onreëlmatig was.

Begunstigdes het die fondse gebruik vir luukshede, van juweliersware tot kosmetiese sjirurgie. Dit is juis SEB wat die deur oopgemaak het vir hierdie soort misbruik.

Die VF Plus se boodskap aan Lesufi is duidelik: In 2024 sal ʼn opposisie-koalisie waarvan die VF Plus ʼn senior vennoot sal wees, die Gautengse regering oorneem en ANC-beleid vervang met meriete-aanstellings en kwaliteit diensverskaffers. Die proses om skoon te maak begin nou tydens die 2021-plaaslike regeringsverkiesing waar die VF Plus in koalisie meriete in stadsrade sal terugbring.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!