Kragopwekking: Na jare word ag geslaan op VF Plus se pleidooie

2020-01-15
Die Redaksie

"Die verklaring van president Cyril Ramaphosa dat sake-ondernemings en selfs gesinne voortaan toegelaat en selfs aangemoedig sal word om hul eie elektrisiteit op te wek en die surplus in die netwerk terug te voer, is iets wat die VF Plus jare reeds bepleit," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van minerale hulpbronne en energie.

"Daarom word dit verwelkom, in die hoop dat die regulatoriese raamwerk spoedig by die president se verklaring sal aanpas. Dit is net jammer dat die land eers voor hierdie kragkrisis te staan moes kom voordat die besluit geneem is.

"Terwyl son- en windkrag lank reeds goedkoper is om te installeer as steenkoolkragsentrales, is daar wetlike beperkings wat die privaatsektor verhinder om die land se kragleweringsvermoë vinniger uit te brei. Dit is teen die agtergrond daarvan dat Eskom se tekorte die land in 'n ekonomiese noodtoestand dompel.

"Tans is dit toelaatbaar om kragopwekking vir eie gebruik tot 1 mW te installeer, sonder om toestemming te vra. Vir huishoudings is dit ook toelaatbaar om fotovoltaïese panele te installeer.

"In albei gevalle kan elektrisiteit teen vasgestelde vergoeding aan die netwerk gelewer word, maar sulke verbruiker/verskaffers moet netto-verbruikers bly. Dit beteken hulle kan in werklikheid afslag op hulle kragrekenings kry, maar nie geld daaruit verdien nie.

"Volgens die president se uitspraak is dit hierdie hekkies wat uit die privaatsektor se pad verwyder sal word. Ongereguleerde opwekkingsvermoë word tot 10 mW verhoog en ondernemings en huishoudings sal netto-produsente kan word, met ander woorde, geld daaruit verdien.

 

"Skole, fabrieke, huise, winkelsentrums, plaasskure en talle ander strukture kan sonpanele huisves. As in ag geneem word dat Suid-Afrika van oos na wes oor twee tydsones strek, word dit duidelik dat sonkrag langer aan die netwerk gelewer kan word as wat die son in enige spesifieke deel van die land skyn."

 

"Die oprigting van behuising vir arm mense se kostebereking kan heel anders daar uitsien as kraglewering van die dakke af ingereken kan word. Skole kan 'n bykomende inkomstestroom ontwikkel, wat die staat met die koste van onderwys kan bystaan. Selfs munisipaliteite kan hul eie dakke gebruik om krag te lewer.

 

"Vir die VF Plus lê die moontlikheid om die landbou-ekonomie te stabiliseer, na aan die hart. Suid-Afrika se klimaat maak landbou uiters wisselvallig, maar sonskyn is betroubaar. Indien boere toegelaat word om krag op 'n klein deel van die plaas op te wek, kan dit toekomstige droogtehulp oorbodig maak."

 

"Die VF Plus het tevore bereken dat een hektaar onder sonpanele opwekkingsvermoë van 1 mW skep, teen koste van sowat R10 miljoen. Dit kan ʼn inkomste van sowat R2 miljoen per jaar vir ʼn boerdery-eenheid oplewer. As die kapitaalbedrag in goeie reënjare afbetaal word, kan daar in droogtetye uit die kragopbrengs oorleef word.

"Installasies van hierdie aard kan die land se agterstand in kragopwekking binne maande uitwis. Indien die regering jare gelede die VF Plus se advies in hierdie verband gevolg het, kon die land tans in 'n ekonomiese groeifase gewees het. Nogtans is dit nooit te laat om oordeelkundig op te tree nie," së Boshoff.

DrWynandBoshoffEnergieMineraleHulpbronne

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!