Korrupsie met tenderprosesse tydens Covid-19-pandemie te wagte: VF Plus verwelkom SOE-ondersoek

2020-05-18
Die Redaksie

"Teen die agtergrond van die kultuur van stroping en korrupsie wat onder ANC-bewind vaardig geraak het, was grootskeepse korrupsie met tenderprosesse tydens die Covid-19-pandemie te wagte. Die VF Plus verwelkom daarom die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek oor die aangeleentheid," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van justisie.

"Tydens ’n aanlyn-sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste vandag het dit aan die lig gekom dat die SOE reeds met die Valke in gesprek getree het oor “ernstige bewerings” van ongerymdhede met tenders wat betrekking het op die pandemie.

"Volgens adv. Anthony Mothibi, hoof van die SOE, handel die bewerings oor tenderprosesse in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap en raak dit beskermende kleredrag en kospakkies. Ingevolge die rampregulasies mag staatsentiteite tenderprosesse bespoedig.

 

"Die nasionale tesourie het wel streng maatreëls uitgereik om korrupsie te verhinder, maar dit het oor die jare duidelik geraak dat staatsinstellings tot so ʼn mate gerysmier is van korrupte amptenare dat geen maatreël, hoe streng ook al, dit sal kan stuit nie."

 

"Dit is voor die hand liggend dat die bespoediging van tenders die deur wawyd sou opmaak vir bedrog en korrupsie en die vraag kan gevra word hoeveel van die hoofsaaklik geleende R800 miljard se rampgeld aan korrupsie verlore gaan.

 

"Die VF Plus sal vrae oor die aangeleentheid rig in die betrokke parlementêre komitee, maar kan by voorbaat die SOE aanbeveel om sy net veel wyer te span as net KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap."

 

"Die tragedie van die aangeleentheid is dat geld wat op gewetenlose wyse gestroop word, van kritieke belang is om lewensnoodsaaklike dienste te lewer, om sake-ondernemings van ondergang te red en om kos in honger mense se monde te sit.

"Die VF Plus sal daarom uit sy pad gaan om toe te sien die regte vrae oor die aangeleentheid word gevra en dat die saak met die nodig aandag en dringendheid ondersoek word," sê Mulder.

JacoMulderJustisie#Covid19SATenderbedrog

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!