Koalisie-ooreenkoms tussen VF Plus en ander partye in belang van die mense van SA:

2016-08-17
Dr Pieter Mulder

Die koalisies tussen die VF Plus en ander partye om plaaslike regerings te vorm en die ANC sodoende uit regeringsposisies te dwing, is ʼn historiese gebeurtenis tot voordeel van alle mense in Suid-Afrika, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag met die ondertekening van die ooreenkoms gesê die oorheersing van die ANC tot dusver op politieke gebied het tot ʼn groot mate die moontlike positiewe rol wat koalisies tussen opposisiepartye kon speel, verydel.

Hy het gesê die VF Plus se voorspelling dat koalisies ʼn groot rol na die 2016-plaaslike verkiesing sou speel, het gerealiseer en vir die eerste keer in die land se nuwe bedeling sal koalisies as ʼn stelsel van wigte en teenwigte ʼn groot rol speel om beter regering te verseker.

“Die VF Plus het aan sy kiesers gesê ons sal deel wees van koalisies en ons sal die party se waardes en beginsels daar indra omdat dit een van die positiewe opsies is wat ons kiesstelsel bied wat nou vir die eerste keer behoorlik benut kan word.

“Ons betree ʼn nuwe politieke fase wat gekenmerk word deur ʼn breë groep politieke partye wat op plaaslike vlak saam gaan werk om te regeer. Die ooreenkoms tussen die partye lui onder meer die doel daarvan is om eerlike, oop, verantwoordbare en werkbare regering aan die mense van Suid-Afrika te bring.

“Dit is nou ook duidelik dat alle partye hierby betrokke belangrik is, die groottes en die kleineres. Dit bring die boodskap hard en duidelik aan die publiek dat hulle kan stem vir die party van hul keuse, en dat hul stem nie gemors word nie, maar gebruik sal word om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak.

“Indien partye gaan probeer om mekaar in te sluk of stil te maak, sal hierdie ooreenkoms nie werk nie. Ons almal besef dit. Ons besef ook dat Suid-Afrika in ʼn krisis is en dat al die betrokke partye verantwoordelik moet optree en ten beste saam moet werk.

“Die klem moet nie op verskille geplaas word nie, maar eerder waar daar gemeenskaplike grond is. Indien dit gedoen word, sal regering slaag en kan die land sy volle potensiaal bereik. Die VF Plus sal sy volle samewerking hierin gee,” het dr. Mulder gesê.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!