Kabinetsvergadering oor kragkrisis: Geleenthede wat lankal aangegryp moes word

2019-12-15
Dr. Wynand Boshoff

"Die kragkrisis in Suid-Afrika moes lankal tot drastiese aksie gelei het, soos die kabinetsvergadering wat president Cyril Ramaphosa Vrydag aangekondig het. Hoewel dit laat is, verwelkom die VF Plus die geleentheid wat nou geskep word om die besluite te neem wat Suid-Afrika se ekonomie kan red," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van minerale hulpbronne en energie.

"Die manier om fondse uit die privaatsektor te mobiliseer om tot kragvoorsiening by te dra, is die opening van die kragnetwerk vir onafhanklike kragverskaffers (IPP's). Talle grootskeepse projekte wag vir 'n gunstige regulatoriese omgewing, maar selfs groter potensiaal kan ontsluit word deur verbruiker-produsente van alle groottes toe te laat om tot die kragnetwerk by te dra.

"Die alternatief vir die opening van die netwerk vir IPP's is die storting van verdere fondse in Eskom. In werklikheid kom dit neer op die subsidiëring van fossielbrandstowwe, terwyl dit presies die bron is waarvandaan wegbeweeg moet word.

"Ironies genoeg word dikwels gesê dat hernubare energie of "groenkrag" te duur is, terwyl "vuil energie" tans met staatsbefondsing en -waarborge solvent gehou word. 

 

"Verbruiker-produsente kan huishoudings, klein besighede, winkelsentrums, groot fabrieke en plase insluit. Elke bestaande dak in Suid-Afrika kan in 'n kragvoorsieningsoppervlak omskep word. "

 

"Dien byvoorbeeld, een miljoen HOP huise elk met vier kiloWatt se fotovoltaïese panele bedek word, voeg dit vier gigaWatt tot die land se opwekkingsvermoë by. Selfs al is daar geen bykomende batterykapasiteit nie, sal so 'n toevoeging kan keer dat Suid-Afrika weer binne werksure aan fase 6 beurtkrag onderwerp word.

"Terwyl die aanbring van sonpanele op HOP-huise eksterne befondsing sal verg, kan meer welvarende huishoudings en besighede self dié belegging befonds, mits dit vir hulle besparing en selfs inkomste kan beteken. 

"'n Beswaar wat dikwels teen hierdie soort planne ingebring word, is die administrasie daaraan verbonde. Die beswaar maak nie sin nie, indien ‘n mens in ag neem dat kragverbruik by elke verbruiker geadministreer word; hoekom sou dit onmoontlik wees om produksie te administreer.

"Terwyl almal saamstem dat 'n mengsel van kragbronne belangrik is om aan die volle behoefte te voorsien, is dit noodsaaklik om die netwerk vir onafhanklike kragvoorsieners van alle groottes oop te maak. Dit kan tot 'n stabieler en groener ekonomie bydra, terwyl dit die fiskale tekort kan beperk," sê Boshoff.

 

 

DrWynandBoshoffEskomEnergieMineraleHulpbronne

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!