Herroeping van sewe Noordwes-burgemeesters dien as bewys van ‘n verrotte ANC-regering

2018-12-05
Die Redaksie

Die VF Plus neem kennis van die herroeping van sewe burgemeesters in die Noordwes-provinsie deur die ANC, maar is nie oortuig dat dit die grootskaalse korrupsie en diensleweringsprobleme in die provinsie sal aanspreek nie. 

"Die oorsaak van die probleme in Noordwes se munisipaliteite is nie slegs te wyte aan skelm en onbevoegde ampsbekleërs nie, maar aan die ANC self," sê Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes. 

Groenewald sê die herroeping van die burgemeesters van die Kagisano-Molopo-, Mamusa- en Maquassi Hills-munisipaliteite, asook die van munisipaliteite wat by die VBS-skandaal betrek word, naamlik Madibeng-, Moretele-, Mahikeng- en die Dr Ruth Segomotsi Mompati-munisipaliteite, deur die ANC is te min te laat.

"Die regerende party wil roem daarop dat hulle ten gunste van goeie dienslewering en die bekamping van korrupsie is deur hierdie burgemeesters te herroep en te vervang.  Die ANC het egter die probleem in die eerste plek veroorsaak.  Korrupsie, wanbestuur en swak leierskap is kenmerkend van die ANC-regering. Hierdie herroeping is dus nie ‘n prestasie nie, maar ‘n skande.

"Kiesers moet die ANC by die stembus tot verantwoording roep. 

"Die verhaal van die ANC is nie een van goeie, verantwoordbare regering nie, maar mislukking op mislukking waarvoor belastingbetalers herhaaldelik moet opdok. 

"Dit is tyd vir ‘n verantwoordbare veelparty-regering, waarin die VF Plus ‘n waardevolle rol sal vertolk. 

"Die VF Plus slaan terug teen korrupsie en swak dienslewering in Noordwes," sê Groenewald.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!