Die huidige kragkrisis, met vlak 6-beurtkrag wat Sondagoggend ingestel is en met selfs erger wat dreig, sal klaarblyklik nie opgelos word solank die ANC regeer nie.
Ryk en arm sal daarom daarby baat vind as almal wat kan, hul eie krag opwek.
Eskom se reuse kragsentrales, wat die ruggraat van kragvoorsiening in Suid-Afrika is, verg gespesialiseerde vaardighede om in bedryf te bly.
Een van die belangrikste redes is dat hierdie kragstasies oor dekades ontwerp is vir die spesifieke aard van die land se steenkool.
Die kennis en vaardighede om dit te bedryf is dus deel van die staatsonderneming se opgeboude menslike kapitaal, wat weens oorhaastige regstellende aksie (RA) prysgegee is.
Al word die landsekonomie tans ten gronde gerig, klou die regering aan twee beleidstukke vas waarsonder die huidige krisis eintlik nie eers sou bestaan het nie.
Dit is regstellende aksie en teenstand teen privatisering.
In afgelope Donderdag se vraag- en antwoordsessie het adjunk-president David Mabuza bevestig dat die regering steeds daartoe verbind is.
Kraggebruikers vir wie betroubare kragvoorsiening belangrik is, sal dus vir die afsienbare toekoms self daarvoor moet sorg.
Kragopwekkers loop duur en gebruik vloeibare brandstof. Boonop word daardie brandstof belas asof dit vir padvervoer gebruik word.
Vir huishoudelike gebruikers is foto-voltaïese panele die antwoord. Industriële verbruikers kan moontlik oor die vermoë beskik om windlaaiers te gebruik.
Daar is soms kritiek dat hernubare energie 'n oplossing vir rykes is. Dit laat buite rekening dat energie wat so opgewek word, meer krag beskikbaar stel vir gewone verbruikers.
Suid-Afrika sal dus tot 2024 vir 'n nuwe regering moet wag om kragstasies te privatiseer en mense op grond van bekwaamheid aan te stel.
Intussen behoort elkeen wat kan, in eie kragopwekking - klein of groot - te belê.