Goeie nuus dat myne eie krag mag opwek

2020-02-03
Die Redaksie

"Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, dat myne toegelaat sal word om hul eie krag op te wek. Mnr. Mantashe se ander uitspraak, dat 'n nuwe onderneming om krag op te wek in die lewe geroep moet word, is egter 'n teleurstelling," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van energie.

"Dit is reeds etlike jare die VF Plus se standpunt dat verbruiker-produsente die beste oplossing vir kragtekorte is. Dit sal huishoudings, plase, fabrieke en myne in staat stel om hul eie krag op te wek, en ook om 'n inkomste uit surplusvermoë te verdien. Sodoende sal duisende rolspelers mekaar op die nasionale netwerk aanvul.

"Dit lyk egter of die regering hardnekkig aan 'n uitgediende sentralistiese model vasklou. So word die voordele van robuust-verspreide kragvoorsiening verbeur.

"Markkragte werk egter in die teenoorgestelde rigting as die regering en ervaring leer dat geen regering dié kragte op die lange duur kan weerstaan nie," sê Boshoff.

 

 

DrWynandBoshoffEnergie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!