Die VF Plus eis dringende ingryping in die beveiliging van gesondheidswerkers in Mpumalanga veral met die huidige staking van Nehawu-lede.
Die VF Plus het daarom ’n dringende skrywe aan die provinsiale departement van gesondheid gerig om veiligheidsmaatreëls vir gesondheidswerkers tydens die staking te verskerp.
Dié versoek volg nadat ’n video verlede week op sosiale media versprei is waarin gesien kan word hoe lede van Nehawu ’n jong vroulike dokter met geweld uit haar kantoor in ʼn Mpumalanga-hospitaal verwyder.
Nehawu het boonop luidens mediaberigte laat blyk dat die staking, wat met intimidasie en die dood van pasiënte gepaardgaan, van vandag af verskerp sal word.
Alhoewel die staking ʼn nasionale aangeleentheid is, is elke provinsiale departement steeds verantwoordelik vir die veiligheid van sy werkers.
Die VF Plus sal die departement aanspreeklik hou indien ’n soortgelyke voorval weer in Mpumalanga plaasvind en sal toesien dat die departement sy grondwetlike plig rakende gesondheidsorg in die provinsie nakom.