Geslagsgeweld: Regering moet daarop fokus om huidige stelsels te verbeter

2020-08-28
Die Redaksie

"Die tema van vandag se vroue-parlement is teenstrydig met die werklikhede wat vroue ervaar. Die grootste mislukking van die bevordering van kollektiewe pogings om geslagsgegronde geweld te beëindig, is dat daar nie werklike kollektiewe pogings bestaan nie," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van vroue.

"Wetgewing, soos die wetsontwerp op huishoudelike geweld, is 'n stap in die regte rigting, maar sulke pogings sal nutteloos wees indien daar nie daadwerklike pogings is om bestaande wetgewing te implementeer nie.

"Die regering moet sorg dat beskermingsbevele uitgereik en afgedwing word en die versekering gee dat polisiebeamptes wat hulself skuldig maak aan mishandeling en teistering, aangekla word.

 

"Die regering kan miljoene aan veilige hawens vir mishandelde vroue bestee, meer maatskaplike werkers in diens neem en meer wetgewing skep, maar indien hy nie uitvoering gee aan basiese wetgewing soos die uitreik en afdwing van beskermingsbevele nie, sal die geveg teen geslagsgegronde geweld nie gewen word nie."

 

"Vroue word aangemoedig om ‘n beskermingsbevel teen mishandelaars te verkry, omdat dit beskerming in die vorm van polisiebystand sal bied.

 

In werklikheid beteken beskermingsbevele soveel soos die papier waarop dit geskryf is. Beskermingsbevele word nie korrek geadministreer en uitgevoer nie, soos statistiek bewys:

• 5% van vroue wat vermoor word, het beskermingsbevele teen hul moordenaars verkry.
• 145 567 aansoeke om beskermingsbevele is gedurende die afgelope jaar verwerk.
• Vir slegs 87 750 van hierdie aansoeke is ʼn tussentydse bevel verleen; en
• Slegs 50 656 is finale bevele. Hiervan word slegs 17% op mishandelaars beteken.

 

"Die regering moet dus prioritiseer op die verbetering van die basiese stelsels om enige verdere lewensverlies te voorkom.

"Tydens gister se parlementêre vraag-en-antwoord-sessie het die president aanstoot geneem omdat daar gesê is dat die raad wat aangestel is om geslagsgegronde geweld aan te spreek, bloot lippetaal lewer.

"Vergaderings word gereeld uitgestel en aanbiedings is dikwels verkeerd. 'n Jaar na die president se beloftes en mooipraatjies oor geslagsgeweld, is daar nog niks daadwerklik gedoen om verligting aan slagoffers te bring nie," sê Breedt.

TammyBreedtVrouePolisieGeslagsgeweldbeskermingsbevele

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!