Geen sprake van ontwikkeling solank ANC regeer

2019-09-03
Die Redaksie

Suid-Afrika se ekonomie het in duie gestort. Die land is nie ʼn ontwikkelende staat nie, maar is vinnig besig om ʼn mislukte staat te word. Geen plan sal iets daaraan verander solank as wat die ANC regeer nie.

Plaaslike regering stort in duie, daar is geen dienslewering nie en munisipaliteite regoor die land is disfunksioneel.

Suid-Afrika se ekonomie is in ʼn krisis. Die minister van finansies, Tito Mboweni, het verlede week goeie voorstelle oor ekonomiese groei gemaak in ʼn openbare dokument wat in skrille kontras staan met die uitsprake van ander regeringsdepartemente.

 

"Solank daar beleidonsekerheid is oor sekere kernaspekte, ook by die ANC, sal die ekonomie nie groei nie. Dit sal ook nie groei solank Cosatu en ander vakbonde die regering gyselaar hou nie."

 

"Die minister van arbeid is byvoorbeeld meer besorg oor gelykheid en kwotas as oor werkloosheid. Daar is werksverliese in feitlik alle sektore van die ekonomie en die ANC sal moet ag slaan op die standpunte van nasionale tesourie wat ʼn verslapping in striemende arbeidswetgewing voorstel wat werkgeleenthede sal skep," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van finansies.

"Lynreg met die siening van die departement van arbeid, stel minister Mboweni voor dat wetgewing verslap moet word vir klein- en mediumgroot ondernemings wat van die grootse werkverskaffers in die land is.

"Tog misluk byna 80% van hierdie ondernemings in die eerste jaar van hul bestaan aangesien die stelsel hulle benadeel.

"Nog ʼn voorstel is dat hierdie ondernemings kwytgeskeld moet word van die minimum-loon indien dit nie bekostig kan word nie. Dit is sinvol en sal ontwikkeling aanwakker. Cosatu, die stert wat die ANC-hond swaai en wat net in eiebelang optree, sal so ʼn voorstel natuurlik in die wiele ry.

 

"Wanneer ʼn regering misluk en die ekonomie kom tot ʼn stilstand, word die skuld gewoonlik op iemand anders gepak. Hieroor is baie voorbeelde in die geskiedenis. Die ANC-regering doen nou presies dieselfde."

 

"Wittes kry hoofsaaklik die skuld vir die swak ekonomie, die geldtekort en die gebrek aan dienslewering. Niks sal egter aan die werkloosheid en armoede verander solank as wat die ANC in beheer is nie," sê Wessels.

WouterWesselsFinansiesEkonomie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!