Gauteng-provinsie besoek Johannesburgse lugvleuel

2019-10-01
Kobus Hoffman

Die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid het tydens oorsigbesoek aan die Johannesburgse lugvleuel vasgestel die enigste twee werkende helikopters is weens wanbetaling gestrand. 

 

Die helikopters staan al onderskeidelik elf en drie maande by ‘n lugvaart-maatskappy in Midrand waar hulle gediens is. Intussen ontvang die lugvleuelpersoneel salarisse.

Polisiehelikopters het vanaf 1 April 2018 tot 31 Januarie 2019 ‘n totaal van 236,4 vliegure spandeer om misdaadtonele te besoek en ‘n verdere 9.9 ure aan misdaadvoorkomingsaksies. In die proses is sowat R58 miljoen gesteelde goedere teruggevind. 

 

Die VF Plus is bekommerd oor die onperasionele lugvleuel.  Dié afdeling speel ‘n onmisbare rol in die teenkamping van transito-rooftogte wat veral in Gauteng hoogty vier. Die wanbestuur van polisiehulpbronne en die ondermyning van die gemeenskap se reg op veiligheid kom neer op verraad.

Daar is ook ‘n groot aantal B105-helikopters wat nie gebruik word nie omdat hulle glo te oud is en vervang moet word.

 

Die VF Plus het met spesialiste gepraat en die uittrede van die B105-helikopters was onnodig aangesien die helikopters in goeie werking is en herstelkoste baie minder beloop as ʼn nuwe helikopter. ‘n Nuwe helikopter kos sowat R15 miljoen. 

 

Die VF Plus is bekommerd dat die SAPD in Gauteng geld verkwis en nie hul verantwoordelikhede rondom onderhoud van vliegtuie en helikopters nakom nie. Belastingbetalers se geld word eerder spandeer om toerusting te vervang as om te onderhou.

Dit skep weer ‘n geleentheid vir grootskaalse korrupsie en tenderbedrog.

 

Die VF Plus sal die saak ook in die parlement se portefeuljekomitee oor polisie aanspreek.

 

KobusHoffman

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!