Eskom-plase: Matjhabeng moes lankal grond verkoop het

2020-09-16
Die Redaksie

"Terwyl kommersiële boere gereeld deur die ANC en EFF as die sondebokke vir die grondprobleem in Suid-Afrika uitgemaak word, is dit duidelik dat die staat in besit van grond is wat nie vir behuising of voedselsekuriteit aangewend word nie," sê Armand Cloete, VF Plus-LP in die NRP en kiesafdelingshoof van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit.

"Die ooreenkoms tussen die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit en Eskom om 139 plase as sekuriteit vir agterstallige skuld te bied, bewys die ANC se onvermoë om die grondprobleem en staatskuld op te los.

"Eskom sal die titelaktes van die plase oorneem totdat Matjhabeng se agterstallige skuld van R3,4 miljard ten volle betaal is.

"Die VF Plus is van mening dat die munisipaliteit lankal sy ongebruikte grond kon verkoop om sy agterstallige skuld aan onder meer Eskom te betaal.

 

"Dit is sinneloos vir ‘n munisipaliteit om ongebruikte bates te hou terwyl skuld aan krediteure buitensporig en onvolhoubaar toeneem."

 

"Alhoewel Eskom moet verseker dat agterstallige skuld deur munisipaliteite aan hom vereffen word, is die VF Plus skepties oor of hierdie soort ooreenkoms die skuldprobleem aan Eskom noodwendig sal oplos. Die staat, deur munisipaliteite, skuld homself steeds geld.

"Dit maak eenvoudig nie sin om staatsbates tussen vlakke en entiteite rond te skuif om skuld te delg nie. Die staatsrekening se skuld word heen-en-weer geskuif terwyl die bates nie tot voordeel van mense aangewend word nie.

"Die plase moet vir privaatgebruik soos behuising en kommersiële landbou aangewend word om te verseker dat die behoefte aan behuising en voedselsekuriteit aangespreek word.

"Die ooreenkoms tussen Matjhabeng en Eskom bewys dat die ANC die oorsaak van grondspanning in Suid-Afrika is en nie weet hoe om die skuld in die staat daadwerklik aan te spreek nie," sê Cloete.

MatjhabengArmandCloeteVrystaatEskom

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!