Emfuleni benodig R5 miljard om rioolstelsel te red

2019-09-03
Die Redaksie

Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het geen ander keuse nie as om die nasionale tesourie om R5 miljard te vra om die Vaalrivier-intervensieplan suksesvol deur te voer.

Hierdie versoek aan die nasionale regering is die enigste uitweg vir die Emfuleni-munisipaliteit om die onmiddellike rioolstortingsramp te behandel.

Die VF Plus sal ook sy betrokke parlementslid vra om die saak onder die betrokke komitee se aandag te bring. Hierdie geld sal egter net die onmiddellike krisis help oplos en is nie ‘n langtermyn-oplossing soos wat die VF Plus graag sou wou sien nie.

Lede van die Gautengse wetgewer se openbare rekeninge- en menslike nedersettingskomitee (CoGTA) het ‘n oorsigbesoek aan die gebied gebring om hulle van die feite te vergewis.

"Die VF Plus is bekommerd daaroor dat in die afgelope twintig jaar daar min gedoen is om die 44 pompstasies en drie rioolplase te bestuur en onderhou. Die pompstasies het so verval dat van die 44 pompstasies slegs sewe stasies gebruik word om riool na rioolplase te pomp," sê Amanda de Lange, VF Plus-LPW in die Gautengse wetgewer.

Sestien pompstasies kan feitlik nie meer gebruik word nie en die res het dringend intensiewe herstelwerk nodig of moet vervang word.

 

"Die tendens is die gevolg van ‘n totale ineenstorting van dienste van die Emfuleni-munisipaliteit wat ‘n negatiewe impak op gesondheid en die omgewing het."

 

"Behalwe vir die enorme rioolprobleme het die munisipaliteit ‘n groot personeeltekort, feitlik geen vullisverwydering word gedoen nie en paaie is van so ʼn aard dat mense daagliks op sosiale media daaroor kla.

"Die VF Plus beveel aan dat Emfuleni-munisipaliteit amptenare van Johannesburg se afdeling water en sanitasie vra hoe hulle dit regkry om met verouderde pompe en beperkte geld hul water en rioolstelsel suksesvol te bedryf.

"Hierdie is ʼn voorbeeld oor hoe ʼn koalisieregering, waarvan die VF Plus deel is, funksioneer om dienste aan inwoners te lewer.

"Die totale ineenstorting van Emfuleni-munisipaliteit is ‘n sprekende voorbeeld van wanbestuur, korrupsie, onbevoegde amptenare en ʼn regering wat nie die politieke wil of vermoë het om ʼn dorp suksesvol te bestuur nie," sê de Lange.

 

GautengAmandaDeLangeRiool

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!