Elke huis moet ‘n water-opgaartenk hê

2019-11-14
Die Redaksie

"Die ou gesegde dat die volgende wêreldoorlog nie oor beleidsverskille of grondgebied gevoer gaan word nie maar oor water, is welbekend. Ewe belangrik is die feit dat water nie hergebruik kan word as daar niks meer oor is nie. Dan is dit te laat vir trane," sê Piet Mey, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van water en sanitasie.

 

"Sonder water kan daar nie lewe wees nie, en Suid-Afrika is ʼn waterskaars land wat onder die dertig droogste lande ter wêreld tel."

 

"Daar is verskeie redes waarom Suid-Afrika, benewens die lae reënval, tans ʼn waterskaarste ervaar. Dit is ʼn tekort aan opgaardamme, die vinnige bevolkingsgroei, instroming van miljoene immigrante uit Afrika en grootskeepse vermorsing en lekkasies weens swak instandhouding van infrastruktuur.

"Suid-Afrika is weens die langdurige droogte reeds midde-in ‘n waterkrisis en daar moet sonder meer opgetree word om ʼn landwye Dag Zero te vermy. Dit sal katastrofies vir die land wees.

"Daar moet deurgaans beplan en gewerk word aan die bou van nuwe opgaardamme en ander alternatiewe soos ontsouting moet deel wees van die beplanning. Ondergrondse water moet sinvol ontgin word en waar moontlik moet water gesuiwer word vir hergebruik.

"Dit is lank reeds ʼn gebruik in droë gebiede om water in opgaartenks op te vang. Suid-Afrika het sewentien miljoen huishoudings wat gesien moet word as deel van die oplossing vir die waterprobleem.

"Elke huis kan voorsien word van ʼn opgaartenk terwyl geen nuwe bouplan goedgekeur mag word indien daar nie voorsiening gemaak is vir ʼn opgaartenk nie.

"Die afgelope 25 jaar is sowat drie miljoen Hophuise gebou. By elke huis moes ʼn watertenk van 5 000 liter geïnstalleer gewees het. Indien slegs die Hophuise se tenks twee keer per jaar deur reën gevul word, is dit maatsgewys feitlik gelykstaande aan die volle inhoud van die Churchilldam in die Oos-Kaap.

"Die prys van ʼn 5 000 liter-opgaartenk is tans sowat R4 600, BTW ingesluit. Die departement van waterwese gee jaarliks miljoene rande onbestee aan nasionale tesourie terug wat hiervoor aangewend kan word. In 2015 is een miljard rand nie bestee nie in 2016 R827 miljoen.

"Dit sal nie net waterwys wees nie, maar terselfdertyd ʼn goeie inspuiting aan die ekonomie gee en werk aan baie mense verskaf," sê Mey.

 

PietMeyWaterkrisis

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!