"Dit is verstaanbaar dat graderingsmaatskappye skepties staan teenoor die fiskale teikens wat die minister van finansies, Tito Mboweni, in sy begroting gestel het," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van finansies.
"Die Fiskale raamwerk wat die regte teikens stel om Suid-Afrika se staatskuld te stabiliseer, is gegrond op 'n volhoubare toename in die belasting-invorderingskoers. Indien dit nie realiseer nie weens ’n gebrek aan ekonomiese groei, sal die begroting nie klop nie en staatskuld slegs toeneem.
"Dit is ook gegrond op ’n bekostigbare staatssalarisrekening en ’n situasie waar uitgawes inkomste nie oorskry nie.
"Niks hiervan sal gebeur solank die ANC regeer en vakbonde hom voorskryf wat om te doen nie. Daar kan nie ekonomiese groei plaasvind onder die ANC nie. Sy beleid en ideologie maak dit onmoontlik.
"Eskom se skuld, wat R488 miljard beloop, is een van die land se grootste bedreigings wat fiskale herstel betref.
"Op hul beurt skuld munisipaliteite Eskom meer as R40 miljard en meer as R10 miljard aan waterrade. Dan skuld regeringsdepartemente munisipaliteite weer meer as R15 miljard.
"Die verloorders is die mense van Suid-Afrika, en veral die belastingbetalers wie se swaarverdiende geld in ’n onwerkbare staats-piramideskema gestort en vermors word.
"Om die situasie te vererger, beweeg die land toenemend na ’n volwaardige welsynstaat. Die ekonomie en die belastingbasis krimp terwyl al hoe meer mense afhanklik gemaak word van ’n maatskaplike toelaag.
"Die enigste wyse om te groei, is om van ANC-beleid weg te beweeg en die private sektor te stimuleer. Tog gebeur ook hier die teenoorgestelde en dié sektor word toenemend gemuilband met striemende arbeidswetgewing.
"Die regering moet daarvan kennis neem. Dit is nie ’n dreigement nie, maar ‘n realiteit.
"Die land het ‘n verantwoordelike regering nodig. Nie een wat ’n gevaarlike piramideskema as ekonomiese plan bedryf waarin geen fiskale raamwerk kan realiseer nie," sê Wessels.