EFF mag nie toegelaat word om langer rassekonflik te stook nie

2020-11-09
Die Redaksie

"Die ANC-regering kyk te lank reeds anderpad terwyl die EFF en sy leierskap uit hul pad gaan om rassekonflik in Suid-Afrika te veroorsaak. Vanoggend se gebeure by die Hoërskool Brackenfell was die jongste voorval waar gemoedere tot op ’n mespunt gedryf is," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier. 

"Dit is onaanvaarbaar en ironies dat die EFF, wat geen geheim maak van sy wrewel jeens boere, witmense en Afrikaans nie, morele waghond probeer speel oor die Afrikaner en geweldsdreigemente gebruik as metode om sy doel te probeer bereik.

"Vanoggend se gebeure herinner aan dié van 2018 by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging toe die EFF gewelddadige protesoptredes gehou het oor die toelating van Engelssprekende leerlinge in die skool.

 

"Die VF Plus is bly dat gemoedere vanoggend by die Hoërskool Brackenfell nie oorgekook het nie, maar sekere mense het wel handgemeen geraak en die polisie moes ingryp om die ouers en die EFF uitmekaar te hou."

 

"Dit is net ’n kwessie van tyd voordat hierdie soort optrede tot ’n tragedie gaan ly.

"Die VF Plus het al by herhaling in die parlement gewaarsku dat hierdie soort rasse-opstokery nie onbepaald kan voortduur nie.

"Dit is soos om met vuurhoutjies in droë gras te speel waaraan daar tans ’n oormaat in Suid-Afrika is juis vanweë die EFF se opruiende optrede en haatspraak, aanhitsing van geweld en intimidasie.

"Die regering sal moet ingryp voordat dit te laat is. Die feit dat daar nie opgetree word nie, skep duidelik die indruk van stille goedkeuring aan die kant van die ANC," sê Groenewald.

DrPieterGroenewald#EFFBrackenfellHoërskoolovervaal

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!