EFF gooi brandende vuurhoutjies in gras met uitsprake oor grond

2016-12-01
Dr Pieter Groenewald

Die EFF wil nie hê daar moet sensitiwiteit wees as hulle sê wittes het grond gesteel nie. Maar hulle raak ongelukkig as hulle op die leuen gewys word. Hulle moet besef hulle gooi brandende vuurhoutjies in die gras met hierdie soort uitsprake, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het in ʼn parlementêre debat oor grondsake gesê mense moet ophou om emosies op te jaag deur te sê ander het die grond gesteel.

Hy het gesê dit is gevaarlike uitlatings aangesien Suid-Afrika ʼn grondwetlike demokrasie is waar niemand grond gesteel het nie. Die wettige grondeienaars in Suid-Afrika het betaal daarvoor, en hulle het gewerk daarvoor.

“Daar moet ook weggekom word van die mite om te dink dat grond outomaties rykdom bring. Selfs al het jy grond moet jy hard werk om ryk te word, en ek is nie so seker of almal wat so graag grond wil hê, so graag hard sal wil werk op die grond nie.

“Nou probeer die minister (Gugile Nkwinti) boonop om die EFF na die kroon te steek met sy uitsprake wat blote retoriek is.

“Die minister is reg as hy sê hy kan nie verstaan dat sommige parlementslede uitsprake maak wat op haatspraak neerkom en wegkom daarmee nie.

“In dié verband wil ek die minister inlig dat ek besig is om ʼn klag teen Julius Malema in te dien by die parlement se etiekkomitee.

“ʼn Mens kan nie hoogheilig in die parlement kom staan en sê jy onderneem om die wette van die land te onderhou, maar dan moedig jy aan die ander kant mense aan om grond te gaan gryp en te beset nie.

“Almal weet dit is nie waar dat wittes grond gesteel het nie. Die EFF gaan dit nie regkry om grondeienaars van hul grond af te dwing nie. Hulle gooi brandende vuurhoutjies in die gras met sulke uitsprake, en die gras gaan brand.

“Ek wil die EFF vandag waarsku om op te hou met hierdie retoriek. Moenie Suid-Afrika aan die brand steek nie,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!