Dringende ingryping in Madibeng gevra

2019-02-05
Die Redaksie

Dringende ingryping is nodig in die Madibeng-plaaslike munisipaliteit wat onder andere Brits, Hartbeespoort, Mooinooi en Broederstroom bedien.

Die munisipaliteit gaan onder ‘n geweldige diensleweringskrisis gebuk wat net eenvoudig nie langer ten koste van sy inwoners geduld kan word nie.

"Infrastruktuur vir die lewering van water en elektrisiteit, asook sanitasie- en ander infrastruktuur verkeer in ‘n haglike toestand weens ‘n gebrek aan instandhouding en opgradering. Gevolglik vloei rou riool in die strate en veroorsaak ‘n ernstige gesondheidsrisiko.  Riool- en waterlekke word nie herstel nie en waar dit wel herstel word, word die gate bloot oop gelos vir maande, soms jare aaneen," sê Elsa Lourens, VF Plus-raadslid in Madibeng.

Volgens Jan Smith, ook ‘n raadslid van die VF Plus, vind vullisverwydering slegs sporadies plaas en is daar sedert Januarie geen vullis in Brits verwyder nie.  Die paaie in die munisipaliteit is in ‘n baie slegte toestand en word nie herstel nie.

"Diensverskaffers aan die munisipaliteit word nie betaal vir hulle dienste nie en weier gevolglik om hierdie dienste verder te lewer.

"Die probleme in Madibeng is te wyte aan die ANC-regering se onvermoë om die munisipaliteit tot voordeel van sy inwoners te bestuur.  Kaderontplooiing, korrupsie, swak bestuur en diskriminasie is aan die orde van die dag. Die ANC het die munisipaliteit in die grond in bestuur en alle inwoners ly nou daaronder.

Die VF Plus het ‘n skrywe aan die LUR van samewerkende regering in Noordwes gerig en versoek dat die munisipaliteit onder artikel 139-administrasie geplaas word. 

"Provinsiale ingryping is nou nodig, aangesien die plaaslike regering die gemeenskap van Madibeng gefaal het. 

"Die VF Plus sal ook nie skroom om ingryping op nasionale vlak te versoek indien provinsiale ingryping nie vinnig genoeg daarin slaag om die benarde situasie waarin die munisipaliteit hom bevind om te keer nie," sê Lourens.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!