Die blote feit dat ‘n gemeenskap oor geweld teen vroue moet debatteer, is ‘n skande (Parlementêre presidentsdebat: Geslagsgeweld)

2019-09-18
Die Redaksie

"Die blote feit dat ʼn land op die hoogste vlak debat moet voer en planne beraam oor geslagsgeweld en in die besonder geweld teenoor vroue, is ʼn ernstige aanklag teen ‘n gemeenskap en sy eie waardestelsels en norme," sê Armand Cloete, VF Plus-LP in die Nasionale Raad van Provinsies.

 

"Die veiligheid en menswaardigheid van vroue moet ‘n gegewe wees in ʼn gemeenskap waar goeie waardes geld. Debatte in die parlement moet eerder gevoer word oor sake soos dienslewering, werkloosheid en armoede."

 

"Soos enige vorm van geweld, mag geweld teen vroue nie aanvaarbaar wees in Suid-Afrika nie. Almal in die land het ‘n verantwoordelikheid om op te tree en iets daaraan te doen. Praat alleen gaan nie help nie. Dit is ongelukkig al wat van die regering se kant kom: Woorde sonder dade.

"Net so onaanvaarbaar is die regering se dubbele standaarde oor menswaardigheid in die land.

"Daar is ernstige probleme wanneer die sekretaris-generaal van die regerende party ʼn minderheidsgroep - die wittes in hierdie geval – openlik beledig deur na hulle te verwys as ‘kwele kwele’ en wanneer sekere politici openlik sê die enigste wittes wat vertrou kan word, is dooie wittes.

 

"Indien almal so begin optree, is die land gedoem. Daar kan nie met die een hand probeer word om geweld stop te sit terwyl dit met die ander hand aangemoedig word nie."

 

"Suid-Afrikaners moet hulself afvra wat doen hulle met hul hande; reik dit uit na ander, of maak dit seer, bou dit, of breek en plunder dit? Wys die hand na onsself om op te tree teen onreg, of wys dit bloot beskuldigend na ander?

"Of doen ons net niks nie? 

"Suid-Afrika kan net weer heel en versoen raak as almal daadwerklik opstaan en optree teen alle vorme van geweld voordat dit die land en al sy mense vernietig," sê Cloete.

ArmandCloete

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!