Die ANC se leuens oor grondbesit in Suid-Afrika

2016-04-26
Dr Pieter Groenewald

Daar bestaan verskeie leuens en mites oor grondhervorming wat die ANC-regering gebruik om die proses van grondhervorming lewend te hou. Harde feite wys egter dat mense nie werklik in grond belang stel nie, maar eerder in die geld wat uit die proses gemaak kan word, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê die eerste leuen is die regering se propaganda dat 80% van alle grond in Suid-Afrika aan wittes behoort.

Hy sê so ʼn stelling kan net gemaak word as daar sekerheid is aan wie al die land se grond behoort.

“Vir langer as sestien jaar is die regering al besig met ʼn grondoudit. Maar die departement kom nie na vore met die uitslag van hierdie oudit nie en dit pas die regering, want hy kan dan die leuen bly verkondig.

“Die volgende leuen is dat die regering vir die massas sê grondhervorming gee vir mense grond. Navorsing toon egter dat slegs een persent van grond wat deur die regering verkry is, deur wettige eienaarskap oorgedra is. Die eintlike eienaar is dus die staat.

“Die realiteit is dat ʼn mens eers die wettige eienaar van grond moet wees alvorens jy kan geld leen om jou grond te ontwikkel en waar jou grond as sekuriteit kan dien. Die regering verkies dit so, want hy wil hê dat mense wat die grond kry, ʼn mislukking daarvan maak. Dit is dan ook wat gebeur.

“Negentig persent van alle grondhervormingsprojekte in die land misluk. Slegs een uit tien van kommersiële plase wat deur grondhervorming bekom is, is in wisselende mates van sukses steeds in bedryf. Al wat die proses doen, is om voedselsekerheid in Suid-Afrika te bedreig.

“Nou is daar sprake van ʼn wetsontwerp op kommunale grondbesit. Dit word egter duidelik uitgespel dat geen eienaarskap gaan plaasvind nie. Vroue wie se mans afsterf sal geen sekerheid van verblyf hê nie. Dit sal afhang van die grille en giere van die stamkaptein of tradisionele leier.

“Hier word dus nie sekerheid geskep nie, maar mense word mislei deur te sê dat grondhervorming vir hulle verblyfreg sal verseker.

“Die volgende leuen is dat grond alleen mense ryk maak. Blote grondbesit maak ʼn mens nie ryk nie, maar dit kan jou baie arm maak. Dit is harde werk en verg vernuf om ʼn stuk grond suksesvol te bestuur.

“Belangrik is dat 93% van die bevoordeeldes wat grond kan kry, eerder verkies om uitbetaal te word daarvoor. Hulle verkies die kontant. Dit wys dat mense nie werklik grond wil hê nie, maar eerder belang stel in die geldelike voordele van grondhervorming.

“Daar bestaan ʼn verdere mite dat grond net eenvoudig oorgedra word. Die waarheid is dat die staat die eienaar in die meeste gevalle word. Hierdie nasionalisering is so groot dat daar straks ʼn verrassing op die EFF wag as hulle eendag die grond wil nasionaliseer. Dan het die ANC dit reeds gedoen,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!