(Debat in NRP: Vermindering van rompslomp, transformasie van die diensleweringswaardeketting vir vinniger groei en ontwikkeling)
Die ANC-regering se bril van onderdrukking, selektiewe hulpverlening en verknogtheid aan onbillike, onregverdige wetgewing en regulering maak hom blind vir dit wat nodig is vir ekonomiese groei.
Dit word verwelkom dat vordering gemaak is om rompslomp te verminder wat medium- en klein sakeondernemings aan bande lê. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) werp egter ʼn donker skadu oor hierdie enkele ligpunt.
Selfs die nasionale tesourie is dit eens dat SEB ʼn groot remskoen vir kleiner ondernemings is om tot die mark toe te tree.
Huidige regulerende en beperkende wetgewing en regulasies kniehalter entrepreneurs in Suid-Afrika nieteenstaande die feit dat kleiner ondernemings die kern van die ekonomie behoort te wees.
Entrepreneurs skep deur innoverende idees en kleiner ondernemings mikro-ekonomieë in provinsies wat die grondslag van die groter ekonomie vorm.
Ongelukkig bied die regering nie dieselfde ondersteuning aan alle rolspelers nie. Kleur speel steeds ʼn oorheersende rol. Dit bepaal tot ʼn groot mate of jy mag tender of nie, of jy mag verkoop of nie en of jy mag werk of nie.
Wat tydens Covid-19 met kleiner ondernemings gebeur het, dien as voldoende bewys hiervan. Onmeetbare skade is aangerig. Drakoniese arbeidswetgewing maak die speelveld selfs meer ongelyk vir sommige deelnemers.
Die blote tema van die debat; die vermindering van rompslomp, is ʼn aanklag teen die regering en ʼn stukkie politieke opportunisme voor aanstaande jaar se verkiesing.
Die waarheid is dat die ANC die ekonomie die afgelope 29 jaar onderdruk, ingeperk en geplunder het, met of sonder rompslomp.
Al moet enige poging om die toetrede van nuwe ondernemings verwelkom word, is dit ongelukkig ʼn gegewe dat daar aan trots, werksetiek en ʼn argelose gebrek aan kundigheid weinig gedoen kan word.
Veral die staatsdiens is ʼn uitnemende voorbeeld hiervan.
Selfs al word rompslomp tot die minimum beperk, sal kaderontplooiing en kwotas ʼn groot stok in die wiel van dienslewering bly solank dit toegepas word.
Die fokus op vaardigheidsontwikkeling in die staatsdiens is sekerlik welkom, al illustreer dit bloot die regering se versuim om aanstellings in die eerste plek op grond van meriete te doen.
Dit is tyd om te besef dat Suid-Afrika eerste gestel moet word, nie politieke ideologie nie.
Die tyd het aangebreek om Suid-Afrika se ekonomie sonder politieke inmenging te laat groei. Kiesers kan aanstaande jaar by die stembus seker maak dit gebeur.
Suid-Afrika verdien beter as die ANC.