Daling in BBP wys regering se planne vir ekonomiese herstel misluk

2022-09-06
Wouter Wessels

Die daling van 0.7% in die bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal vanjaar, is ʼn duidelike aanduiding dat die regering se planne vir ekonomiese herstel faal.

Dit dui ook daarop dat president Cyril Ramaphosa uit voeling is met die werklikhede van die probleme wat die land se ekonomie kniehalter.

Ekonomiese oplewing en groei sal slegs moontlik wees indien werklike strukturele hervorming in die land plaasvind.

Sonder betroubare elektrisiteitsvoorsiening, ontoereikende basiese dienslewering en die regering se beleid en wetgewing wat sakebedrywighede beperk, sal die ekonomie aanhou om te bloei.

Dié inkrimping van die ekonomie sal die belastinginkomste van die staat benadeel wat die wankelrige fiskale posisie verder sal verswak.

Die staatskas is reeds bankrot terwyl die behoefte aan maatskaplike dienste soos gesondheid, onderwys en maatskaplike toelae, daagliks toeneem.

Die privaat sektor moet in staat gestel word om te belê, werk te skep en ekonomiese groei te bewerkstellig.

Dit kan slegs geskied indien die regering beleggingsekerheid bewerkstellig deur; die elektrisiteitskrisis effektief aan te spreek, privatisering, korrupsie hok te slaan, kaderontplooiing te staak, bevoegde staatsamptenare aan te stel en ontslae te raak van beperkende wetgewing soos regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Dit is wel moontlik om hierdie aanpassings te maak om die ekonomie op die herstelpad te plaas, maar onder die ANC sal dit nie gebeur nie.

Kiesers moet dit in gedagte hou met die verkiesing in 2024. Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

WouterWesselsBBP

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!